Dooie plaveisel of lewendige renbaan?
Lukas 18:15-17
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk
‘n Bekende Youtube-persoonlikheid het ‘n video op sy kanaal gelaai met die titel “How I Deal With Kids Playing in My Driveway”
Met die lees van hierdie opskrif het ek gedink die man was kwaad en gaan hierdie kind iets aandoen. Hy het egter iets wonderliks gedoen. In plaas daarvan om kwaad te word omdat die seuntjie heeltyd sy alarm laat afgaan, het hy ‘n renbaan vir die seuntjie gebou. Die video was ‘n reuse sukses. Tans het 12,5 miljoen mense reeds na hierdie video gekyk. In die video sien mens ook hoe die hele buurt hierdie renbaan geniet.
Dit wat ek raak sien, is hoe beide die seuntjie en die man van die video nie net ‘n stuk plaveisel gesien het nie. Hulle het iets gesien wat die res nie gesien het nie. Hulle het ‘n geleentheid gesien. Hierdie spasie was nie ‘n dooie spasie nie, dit was ‘n lewendige spasie wat vir ander mense vreugde en sin kon gee.
In die verhaal waar Jesus die kindertjies nooi om na Hom toe te kom, sien ek iets soortgelyks raak. Die dissipels weet hoe die publieke spasie behoort te lyk. In daardie tyd was die publieke spasie slegs vir volwasse mans gereserveer. Vrouens en kinders was nie toegelaat om enigsins in die publieke ruimtes op die voorgrond te tree nie - bietjie soos ons die spreekwoord ken: jy mag gesien maar nie gehoor word nie.
Jesus doen dan iets anders as wat die mens sou verwag. Hy keer die dissipels en wys hulle dat God anders na hierdie spasie kyk. Hy leer hulle hoe God se koninkryk lyk. In God se teenwoordigheid is daar ‘n lewende, aktiewe ruimte wat anders is as dit waaraan ons gewoond is.
Baie mense lees hierdie teks met die idee dat dit beteken dat ons ‘n kinderlike geloof moet hê wat dinge net blindelings aanvaar. Natuurlik is dit so dat ons nie altyd alles in die lewe kan verklaar nie en dat geloof daarom ‘n sprong van vertroue is. Maar dit is nie wat hierdie gedeelte ons wil leer nie. Dit probeer ons eerder aanmoedig om anders te dink oor wie by God welkom is. Dit is wat die mense van daardie tyd sou hoor en sou uitdaag. Dit is wat hulle sou inspireer.
Die wyse waarop die Youtube-video versprei het, wys op die impak daarvan dat die mens anders na die wêreld moet kyk. Dit inspireer en motiveer. Dit gee hoop in hopeloosheid. Dit gee sin en betekenis. Dit alles omdat ‘n man ‘n kind verwelkom het eerder as om hom weg te jaag.
Dink net hoe sou die wêreld gelyk het as ons almal met hierdie bril na die werklikheid gekyk het.