Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees

Geskryf deur Ds. Zander van der Westhuizen
 
2020 is ‘n moeilike jaar vir baie mense. Finansieel het die jaar baie anders as beplan uitgedraai. Sommiges het minder ontvang, ander het besighede verloor en ander hul werk. Die hele wêreld is letterlik hierdie jaar met die moontlikheid van armoede gekonfronteer. Die “armoede” speel nie net in op ons materiële realiteit nie, maar selfs op dit wat in ons binnekant gebeur.
 
Dit is ‘n tyd van refleksie. Om gekonfronteer te word met verliese, moontlike armoede en vrese rondom basiese oorlewing dwing enige mens tot refleksie. Veral dié wat nog het, besef dit is nie só vanselfsprekend soos gewoonlik nie.
 
In hierdie refleksie, in hierdie konfrontasie met die moontlikheid van verlies, lê die geskenk van 2020.
 
Jesus leer op ‘n dag vir ‘n skare mense (en spesifiek vir sy dissipels) die waarhede van God se koninkryk. Een van hierdie waarhede gaan oor dit wat jou dryf. In die konteks van “skatte” en die bymekaarmaak van die materiële, leer Jesus ons dat werklike rykdom nie lê in wat jy op aarde bymekaar maak nie. Werklike rykdom lê in die ewige. Die skatte wat jy by God bymekaar maak, is werklik van belang.
 
Jesus leer ons iets: as jy werklik wil weet wat dryf jou in die lewe, kyk waar maak jy jou skatte bymekaar. “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees”.
 
In hierdie tyd wat voorlê, is dit goed om jouself af te vra waar jou hart lê. Die jaar het ons baie daaroor geleer. Jy kon sien na wat of wie jy gryp wanneer jy met ‘n krisis gekonfronteer word. Jy kon leer watter skatte jy bymekaar maak om te beskerm en watter is veilig.
 
Miskien lê ons dankbaarheid hierdie jaar net in hierdie een ontdekking: Waar lê my hart regtig?