God by ons

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Waarna luister jy as jy God se stem wil hoor?
 
Die kanse dat God ooit in ‘n hoorbare stem met jou gaan praat, is bitter skraal. Selfs in die Bybel was dit meer die uitsondering as die reël. Tog wag ons almal op verskillende maniere vir dieper ervarings in die Here se teenwoordigheid. Die hartseer is dat hierdie verwagting ons verhoed om al die ander kere wat God wel met ons praat, te herken. Na alle waarskynlikheid gaan God nooit in die stem van die “derde persoon-verteller” met jou praat nie.
 
Kom ons kyk so bietjie terug in die geskiedenis toe God met Moses gepraat het:

1 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, 'n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.2 Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie.3 En Moses sê vir homself: "Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?"4 Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: "Moses! Moses!" En hy antwoord: "Hier is ek."5 Die Here sê toe vir hom: "Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond."6 Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

(Eks 3:1-6)
 
Hierdie is 'n baie spesiale en gewyde oomblik wanneer God met Moses praat. Kom ons ontleed dit so ‘n bietjie:

1. God praat op sy tyd, met sy metode en in sy terme met Moses. Hy besluit wanneer Hy met Moses gaan praat. Dit is God se inisiatief en sy besluit.

 
2. Hy verskyn op 'n bonatuurlike manier aan Moses - in 'n bos wat nie uitbrand nie.
 

3. Hy sê vir Moses: "Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond."
 

4. Hy openbaar Homself duidelik aan Moses. "Ek is die God van jou voorvaders: Abraham, Isak en Jakob." Daar is nie twyfel oor wie dit is wat praat nie.

 
5. Moses beleef die oomblik so intens dat hy sy gesig toegemaak het.
 
Terug by vandag

Hoekom wil jy God se stem hoor? Wat wil jy hoor? Wat moet Hy vir jou sê? Wat is ek en jy bereid om te doen met dit wat Hy vir ons wil sê? Ongelukkig is dit so dat ons soms net wil hoor wat ons pas. Meer nog - soms soek ons so 'n bietjie toekomsvoorspelling waar die Here vir ons vertel van voorspoed wat op ons wag.
 
Ek glo die Here praat op baie maniere met mense. Ons moet net gaan toets of dit regtig sy stem is wat ons gehoor het. Hoe weet ek dit is God se stem? Deur dit te toets aan die Woord! God sal nooit iets sê wat in stryd is met sy Woord nie. As dit jou lei na 'n dieper verhouding met Hom, na meer liefde vir Hom en vir ander, dan is dit sy stem. As dit jou hart sagter maak vir ander en nie net oor jou eie belange en welstand gaan nie, dan is dit sy stem!