Geseënd is die vredemakers
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen
Die koerant hou ‘n mens besig. Daar is geweld, aggressie en moord op elke bladsy. Dit is moeilik om die afgelope weke nie deur die gebeure in ons land ingesluk te word nie. En dit is ook nie maklike leesstof nie. Die beeldmateriaal, video’s, sosiale media en foto’s van die gebeure in Senekal (en ander plekke) is gereeld in jou gedagtes. So ook die reaksie van mense op Facebook, die kommentaarkolomme en Whatsapp-groepe.
Mense is kwaad. Mense tel letterlik wapens op. Daar is selfs oproer en dreigemente. Die rassespanning loop hoog. Niemand weet meer verseker watter kant van watter storie om te glo nie en dit skep onsekerheid.
Party bid. Party vloek. Party bid en vloek.
Ander probeer vrede maak.
Die situasie in die tyd van Jesus se bergpredikasie was erger. Daar was grootskaalse ongeregtigheid. Daar was massamoord deur die regering. Die belasting was erg. Die mense was kwaad en die geweld hoog. Mense het gesterf weens siekte en armoede. Die meeste mense het nie ouer as 30 geword nie en jou kans om moeilike tye te oorleef, was skraal.
In dit alles vra Jesus die honderde mense wat gekom het om na Hom te luister om vredemakers te wees. Hierdie arm en honger mense wat uitgebuit word deur Romeinse onderdrukking en korrupte plaaslike leierskap word gevra om sagmoedig en barmhartig te wees. Jesus vra selfs jy moet jou vyand liefhê, die soldaat se wapenrusting twee keer so ver dra as verwag en jy moet die ander wang draai (jouself op ‘n eties-aanvaarbare wyse handhaaf sonder om tot jou opponent se vlak te daal). Jesus vra jy moet eerder die koninkryk van God eerste stel en nie die spel van die wêreld speel nie. Tree anders op. Daarin sal jy geseënd wees.
Moenie dink hierdie woorde van Jesus het in daardie tyd maklik op die oor geval nie. Moet ook nie die fout maak om te dink dit is vandag maklik om Jesus in Suid Afrika te volg nie.
Baie het van hul geloof ‘n “sondagskool-godsdiens” gemaak. Hulle dink aan “Christenskap” as ‘n Sondagroetine wat ingepas moet word soos dit hul pas (die huidige omstandighede wys dit duidelik uit). Hulle dink dit is maklik om ‘n volger van Jesus te wees. Hulle dink dit vra nie veel meer van Afrikaanse NG Kerk-mense as om op die sensusvorm “Christen” te skryf nie.
Werklike volgers van Jesus besef Hy vra van ons meer as wat ons dink. Hy vra ‘n kruisiging van jou eie hubris, selfsug en selfs verwaandheid. Om werklik vredemakers te wees, is moeilik. Om werklik sagmoedig, barmhartig en arm van gees te wees, is nie so maklik nie. Om werklik te luister, werklik lief te hê en terug te staan om spasie te maak, druis teen ons natuur in.
Min mense volg die moeilike pad van vrede.
Ek het die voorreg gehad om tyd te spandeer saam met die vorige voorsitter van die Nobel-vredespryskomitee. Professor Ole Danbolt Mjøs het vir my iets geleer. Hy het gesê daar is baie plekke op hierdie aarde waar mense leer hoe om oorlog te maak; daar is ‘n handjievol instansies waar mense leer om vrede te maak.
Die kerk moet die plek wees waar mense leer hoe om vrede te maak. Dit is ons plig. Dit is ons roeping. Ons ís die vredemakers.
Om vrede te bewerkstellig, moet mense juis in tye soos nou nader aan mekaar beweeg. Mense moet juis meer sensitief wees en werklik luister om te probeer verstaan. Mense moet na mekaar uitreik en die seer wat almal beleef saam op die hart dra. Ons moet streef na meer empatie, meer medelye en meer gedeelde grond.
Mag jou mens-wees hierdie week vrede bring.
Mag jou liefdesdade mense nader aan mekaar bring.
Mag die manier waarop jy luister iemand anders nader aan God bring.