Knik die kop
Lukas 18:9-14
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk
Ek het agtergekom daar is iets wat ek die afgelope jaar of wat doen wat ek selde vantevore gedoen het. Elke dag van die afgelope klompie maande moet die sekuriteitswag my koors neem sodra ek by die kerkterrein in ry. Ek maak dan die venster oop, groet hom vriendelik en laat sak my kop sodat hy by my voorkop kan uitkom (ja, ek weet ek kan seker net my arm ook uitsteek ... ). Op ‘n stadium het ek besef dit maak dat ek minstens een keer per dag voor hom buig. Dit gebeur ook meer dikwels wanneer ek by ‘n groep mense kom. In plaas van die gebruiklike handdruk gee ons mekaar ‘n klein kopknik, net om hallo te sê.
Ons buig voor mekaar.
In Oosterse tradisies is dit tot vandag toe eintlik glad nie vreemd om so te groet nie. Om voor iemand te buig, is om respek te betoon.
Dit is ook waarom ons dikwels die hoof buig wanneer ons bid. Dit is ons manier om aan God eerbied te betoon. In gebed voor God is dit nie net ‘n vorm van respek nie, dit is ook ‘n manier om te kenne te gee dat ons volledig van God afhanklik is. Alles wat ons dan sê of vra, word gedoen met ‘n nederige hart en sonder bravade of arrogansie. Ons praat hier met die skepper van die hemel en die aarde.
Dit is wat my ook aanspreek in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Albei mense bid. Albei mense is op ‘n manier gelowig. Tog leer Jesus ons dat dit die tollenaar is wie se saak reg is met God. Die tollenaar kyk af; hy buig sy hoof. Hy slaan sy bors as teken van berou.
Eers dan praat hy met God. “O God, wees my, die sondaar, genadig!” (vers 13)
Dalk is dit een van die lesse wat ons weer moet leer. Dalk moet ons weer onthou dat God die hemel en die aarde gemaak het - nie ons nie. Dalk moet ons weer onthou dat ons almal met respek en waardigheid moet hanteer. Almal is deel van God se skepping. Hoe jy die skepping hanteer, wys wat jy van die Skepper dink.
Mag elke buig, elke kopknik, ons weer na hierdie sin terugbring:
O God, wees my, die sondaar, genadig.