Hier en nou!
Geskryf deur Ds. Karin Steyn
Het jy al ‘n lekkerny waarvan jy baie hou uit die kas gaan haal en begin eet of drink en nadat jy klaar was, kon jy nie eens onthou dat jy dit geëet of gedrink het nie? Die oomblik is verby; jou aandag was reeds weer by iets anders en jy kon die lekkerny nie bewustelik geniet nie. ‘n Ander prentjie: Jou dag is vol en besig en iemand moet iets by jou huis kom doen. Jy moet die persoon ontvang en die tyd stap aan. Die persoon is effens laat. Wat gebeur? Jy is vies, selfs kwaad want jy het soveel ander probleme om ook te hanteer. Dit is die ongemak met die hier en nou...
Dalk speel dit hier aan die begin van 2021, in die tweede Covid-golf in ons land, op ander maniere in jou lewe uit. Almal het ’n behoefte om in die hier en nou teenwoordig te wees. Maar sekere vrese oorheers ons gedagtes. Hoe lank gaan dit alles aanhou? Gaan iemand vir wie ek lief is en wat siek is okay wees in die hospitaal? Gaan ek nog 'n werk hê? Gaan die land oorleef? Wat van my kinders se toekoms? Soms laat die onsekerhede jou hart, jou keel en jou kakebeen als op 'n knop trek. Hoe leef ‘n mens daarmee saam? Wat doen jy met die geraas wat in onsekere tye in jou kop kom tuis maak?
Spreuke 4:23 sê: “Wat in jou hart omgaan, bepaal jou hele lewe”. Die Bybel praat nie net oor ons dade en woorde nie, maar ook oor wat in ons binnewêreld aangaan. Ons vrese vir môre wat vandag by ons steel.
Onthou, elke oomblik het sy eie rykdom en om daarin te leef, is die rykdom van die lewe. Ons loop egter maklik by die wonder van die oomblik verby. Richard Rohr skryf: “If you can’t be present right now, nothing new is ever going to happen to you. You will not experience your experiences; they will not go any depth in your soul. Be willing to live right here, right now – to be present."
Rohr se woorde laat my besef ons het meer nodig van hierdie “teenwoordig-wees-in-die-oomblik”-tye, al is dit moeilik onder huidige omstandighede. Dit gaan hier oor ’n groter saak as om net hier en daar, dan en wan, aan God te dink. Daar is so baie dinge in ons lewens aan die gang dat ons met ’n versmalde bewussyn leef. Daar is soveel geraas in ons koppe dat ons ongevoelig geraak het vir die wonder van die lewe wat elke oomblik voor ons oë en in ons ore ontvou. Ons stry teen dinge wat ons nie kan verander nie en leef ’n halfbewuste lewe op “autopilot”.
Ek raak die week weer daarvan bewus dat gebed en vertroue in God beteken dat ons die toekoms in sy hande kan laat en ons koppe kan bevry van ’n gekarring daaroor.
Kom ons begin die week met 'n maklike oefening om ons te help om hier en nou teenwoordig te wees. Al sukkel ons koppe en harte om in die oomblik te wees, help ons liggaam ons, om hier te wees nou en die innerlike werk te doen :
• Kies ’n plek waar jy nie gesteur gaan word nie en gaan sit gemaklik.
• Maak jou oë toe.
• Rig jou aandag op jou voete en voel wat jy nou daar ervaar.
• Beweeg jou aandag stadig boontoe na jou hande en voel wat jy nou
daar ervaar. Bly daar totdat jy die lewe binne-in jou hande voel.
• Verskuif jou aandag na jou bolyf en voel ’n rukkie net hoe jou asemhaling vanself voortgaan.
• Rig dan jou aandag op jou ore. Let op of jy meer dinge as gewoonlik hoor.
• Maak jou oë oop en let op of jy meer dinge as gewoonlik raaksien.
Onthou, elke oomblik het sy eie rykdom en om daarin te leef, is die rykdom van die lewe. Die diepte-dimensie van elke oomblik is in werklikheid die teenwoordigheid van die Ewige Een.