Genoeg genade vir vandag

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Dis die derde week in Februarie en van hierdie week af is ons gemeentekinders terug skool toe en begin daar weer 'n vorm van normaliteit in almal se huis en roetine kom. Op die kerkterrein is daar sommer so ‘n lekker gevoel van energie en opgewondenheid. Dis die laaste paar weke vir my so lekker om in gesprek met verskeie gemeentelede te wees en vir hulle te vra: Hoe het julle julle huishouding die laaste paar weke bestuur? Dan kom hierdie aanhaling wat ek nou al verskeie kere in die Covid-tyd gehoor het weer na vore: "Ons is dalk almal in dieselfde storm, maar definitief nie almal op dieselfde boot nie."

"For some this period in our lives are optimal, a moment of reflection. For others, this is a desperate crisis. Some of us are facing loneliness like never before and others are planning vacations. Some were in their "home office". Others are looking through trash to survive. Some have experienced the near death of the virus, some have already lost someone from it and some don't even believe this is a big deal."
 
Beter kan ek dit nie self sê nie. Die woorde ondervang die huidige realiteit so goed vas. Na hierdie gesprekke is die volgende woorde konstant in my gedagtes: 'Genoeg genade vir vandag?' My genade is vir jou genoeg. Want my krag word in swakheid volbring (2 Kor 12:9). Hoe lyk dit? Hoe verstaan ons dit?

Ek wonder wat die woord "genoeg" nou regtig beteken? Miskien is dit daardie gevoel wanneer iemand vir jou kos inskep en jy sê: Dankie, dit is genoeg. Maar daardie genoeg kan op raak. Dit het my meer laat gesels en vrae vra. Hier is die mooi wat ek die afgelope weke by julle geleer het:

  • God se genade is genoeg as ons geval het en probeer opstaan. Selfs wanneer ons nie kan opstaan nie. Selfs genoeg as ons weér val.
  • God se genade is genoeg in die vrolike tye wanneer ons nie elke dag na Hom smag nie. Dis genoeg in die swaarkrydae wanneer ons om hulp roep.
  • God se genade is daar wanneer ons dit verdien en selfs in die oomblikke wanneer daar nie 'n enkele rede is hoekom ons dit verdien nie.
  • God se genade is genoeg wanneer ons dit met ons hele hart en albei ons hande aangryp en dis ook genoeg as ons in oomblikke eintlik niks met sy genade te doen wil hê nie.

Hierdie week is julle my inspirasie. Ek het by julle geleer uit die mooi en die seer stories dat God se genade regtig genoeg is.

Mag ons as gemeente dit aanhou getuig en vertel en leef in die weke wat kom!