Mag ek twyfel?

Jakobus 1:2-8; Markus 9:20-29
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk

Twyfel en geloof hoort nie bymekaar nie. Dis in elk geval wat ons aflei indien ons slegs na Jakobus 1:6 kyk – “Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word”.
 
Twyfel is sleg. Twyfel is verkeerd. Party mense sal selfs sê twyfel is sonde. Maar daar is nog ʼn probleem. Want net bietjie vroeër in Jakobus word die waarde van swaarkry en lyding uitgewys (Jak 1:2-3). Is dit nie dan juis swaarkry en beproewings wat ʼn mens na twyfel toe stuur nie? Hoe kan ons daaroor bly wees om swaar te kry maar dan gestraf word wanneer ons twyfel?

Twyfel is ʼn moeilike dinge vir elke gelowige.
 
Ek dink ook dat elke gelowige op een of ander stadium sal twyfel. Niemand kan dit vryspring nie.

Kyk na die storie in Markus. In hierdie verhaal sien ons hoe Jesus met ‘n man praat wie se seun ‘n ernstige kwaal het. Die evangelis beskryf dit as ‘n gees wat hom in vuur gooi of probeer verdrink. Die man vra dan in vers 22: “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” Jesus antwoord dat hy nie moet twyfel nie want vir die een wat glo, kan alles. Dit is natuurlik ‘n pragtige konsep en beteken vir baie gelowiges enorm baie. Maar wat vir my uitstaan is eerder die pa se antwoord hierop.
 
“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof” (vers 24).

In hierdie versie sien ons hoe ‘n mens MAG twyfel. Die man twyfel, maar daar waar hy sukkel, vra hy die Here vir hulp.

Twyfel opsigself is nie sonde nie. Twyfel wat maak dat jy ophou om na die Here te draai vir hulp, is die probleem. Hierdie man kry dit reg om ten spyte van sy ongeloof steeds na die Here te gaan vir hulp. Wat maak Jesus? Hy help hom. Hy maak die seun gesond. Ten spyte van die man se gedeeltelike twyfel.
 
Mag ons ook in hierdie tye met al die onsekerheid en vrae so na God toe gaan.