Tyd...

Prediker 3
Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Prediker verwoord dit so mooi: ‘Daar is ’n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd: ’n Tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf. ’n Tyd om te plant en ’n tyd om uit te ruk wat geplant is. ’n Tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak. ’n Tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou. ’n Tyd om te huil en ’n tyd om te lag. ’n Tyd om te treur en ’n tyd om van vreugde te dans.’ (Prediker 3)

In hierdie hoofstuk lyk dit of Prediker die heeltyd besig is om 'n muntstuk heen en weer te draai … soms moet dié kant bo lê en dan weer die ander kant. Balans. Óf dit óf dat.
Hoe gebalanseer lyk jou tyd-skaal sover dié jaar?

Hierdie week haal ek weer na ‘n lang ruk my gunsteling horlosie uit die laai uit, net om uit te vind die battery is pap. Ek besef meteens dat ek die horlosie presies ‘n jaar terug gedra het want dié week, één jaar terug, is die eerste Covid-geval in ons land aangeteken en is ons lewens onherroeplik verander. Ons verlang steeds na spontane kuiers, drukkies, sportbyeenkomste en om ‘n glimlag te sien. Om net te lewe sonder hierdie diep bewustheid van maskers en gesondheidsveiligheid.

Dis vreemd dat ek nooit die horlosie se battery vervang het nie. Dalk was dit onbewustelik ‘n poging om tyd te stop of om nie so erg aan tyd herinner te word nie. Wat is tyd? Eintlik bestaan daar nie so iets nie, weet jy? Ons kosmiese horlosie waarmee ons daagliks werk, is die aarde wat elke 24 uur om sy eie as draai ten opsigte van die son. Hierdie 24 ure deel ons weer in al hoe kleiner inkremente op en hoe meer ons dit opdeel, hoe minder voel dit of ons tyd het.

Hoe voel dit vir jou as die ou voor jou by die verkeerslig net vir 'n sekonde te lank huiwer nadat die lig reeds groen is …. Ongeduldig? Omgekrap? Warm? Of as die rekenaar net nie vinnig genoeg reageer nie? Of die persoon net nie vinnig genoeg sy foon antwoord wanneer jy hom bel nie. Ons is net té haastig! Prediker sê daar IS 'n tyd vir alles … maar ons HET nie tyd vir alles nie. Jy ken mos ook mense wat altyd b-e-e-e-sig is. As jy vir hulle vra hoe dit met hulle gaan, antwoord hulle altyd: "Besig!"

As ek in Prediker lees oor die tyd, dan sien ek iets anders as horlosie-tyd; ek sien prioriteit-tyd. Die vraag is dus nie: "Hoeveel tyd het jy nie?". Die vraag is wel: "Hoe lyk jou prioriteite?" Waarmee "clutter" ons ons daaglikse lewe?

Terwyl ek vanoggend my horlosie aansit, besef ek net weer dat tyd nie stil gestaan het nie. Dit is gevul met veranderings, uitdagings, chaos, opgewondenheid, teleurstellings en oomblikke waar ons wens tyd kan stil staan.

Mag jy die week bewustelik leef met die TYD wat vir jou gegee word.