Teenwoordige tyd
1 Kronieke 16:11
Geskryf deur Prop. Olga Ludwick
(Olga is ons gemeente se kinderwerker)
Ek lees onlangs ‘n aanhaling wat my in my spore laat stop het:
“How we spend our days is, of course, how we spend our lives.” Annie Dillard
Lees weer hierdie aanhaling, maar met meer aandag.
“How we spend our days is, of course, how we spend our lives.”
Die aanhaling is vir my so aangrypend, want elke keer as ek dit lees, vra ek myself dadelik af waarmee ek my dae vul. Is dit waaraan ek my tyd en energie spandeer, die lewe waarvan ek droom? Waaraan spandeer ek werklik my tyd? My groter vraag is: waar is God se liefde in dit alles?
Ons het elkeen ‘n prentjie van wie ons wil wees en waarmee ons onsself wil besig hou. Soms is dit presies wie ons is en wat ons doen, maar dikwels bestaan die prentjie uit die goed wat ons bêre vir later – vir ‘n rustiger tyd, ‘n spesiale tyd, ‘n ander tyd...
‘n Paar bekende deuntjies kom by my op: ‘Ek begin Maandag gesond eet’, ‘Ek gaan hierdie vakansie elke dag vroeg opstaan om Bybel te lees’, ‘As ek eendag fiks is, gaan ek saam met my fikse vriende die Otter stap’, ‘Ek gaan Desember al die boeke lees wat ek nog altyd wou lees’...
Ons wil soveel keer ‘n klomp goed in plek kry voordat ons die volgende tree gee. Die stap wat ons nader aan ons ideale sal bring, nader aan God sal bring. Ons lewe is so inmekaar geweef dat ons telkens veel eerder in die groot oomblikke en die rustige, natuuroomblikke en die droomoomblikke vir God sien, eerder as in die gewone en alledaagse oomblikke.
Wat as God nie net in donker oomblikke en foto-oomblikke is nie? Wat as God ook in die eerste-koppie-koffie-van-die-dag-oomblik is of in die skottelgoed-was-na-aandete-oomblik? Die gewone menslike oomblikke. Die oomblikke wat jy nie kan vermy nie, want dit is deel van die roetine waaruit jou lewe bestaan.
Ons lewe in ‘n tyd waar produktiwiteit aan die orde van die dag is. Ons móét meer kreatief wees en net in hemelsnaam genoeg gedoen kry. Ons is so besig om produktief te wees en gereed te wees vir die volgende vyf stappe dat ons vergeet om teenwoordig te wees. Teenwoordig in die hede, in die hier en die nou. In ons lywe. By die mense om ons. Ons vergeet selfs om die kos wat ons eet se smake behoorlik te proe en te ervaar.
In Lydenstyd, waar ons opnuut bewus is van Jesus se lewe as mens, word ons ook uitgenooi om meer teenwoordig te wees in ons alledaagse lewe. Jesus het mens geword en sodoende mense herinner aan God se liefdevolle teenwoordigheid in die wêreld deur die eeue heen. In die Ou Testament sien ons reeds die patroon van God se teenwoordigheid en liefde in die skepping en die verhale van God met mense. Ons sien egter ook dat dit ons as mense is wat nie oplet nie, wat nie teenwoordig is nie, wat na alle kante toe kyk en dan miskyk.
Daar is ‘n opvatting dat wanneer ‘n mens met sekere dinge besig is, jy dan nader aan God is of meer van God se liefde kan raaksien. Byvoorbeeld: wanneer jy met vakansie is en net kan ontspan, dan sien jy God se grootheid; as jy Sondag in die kerkgebou sit, dan ervaar jy God se teenwoordigheid; as jy jou droomwerk het, dan beleef jy God se genade. Alhoewel hierdie voorbeelde nie verkeerd is nie, is dit nie al kere wanneer God by jou is nie. God is Immanuel – God by jou. Deur meer bewus te word van die gewone oomblikke in jou lewe – die glimlag van ‘n vreemdeling, die smaak van jou ma se kookkos, die oproep van ‘n ou vriend, die geur van skoon wasgoed… Deur net meer bewus te word van die wonder van die alledaagse, kan jy meer bewus word van God se liefdevolle teenwoordigheid in jou lewe.
Wanneer jy anders kyk na die gewone dinge dan hoef jy nie langer te wag vir ‘n ander oomblik of ‘n spesiale tyd nie. Jy besef dan dat elke oomblik iets kosbaars inhou, want God is reeds daar.
Johannes 1: 1-4
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was die lewe, en dié lewe was die lig vir mense.”