Ons perspektief – God se perspektief…

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Ons het pas Paasfees gevier. Ons is weer aan die kruisiging herinner en die afgelope Sondag het ons weereens die werking van die opstandingskrag gevoel. Terwyl die wonderlike naweek nog vars in ons gedagtes is, gebruik ek die kans om oor die skildery van Salvador Dali te skryf.


Nadat hy ‘n uitbeelding van Jesus aan die kruis gesien het wat in 1550 geskilder is, het dit hom so diep geraak dat hy ‘n soortgelyke een in 1951 geskilder het.



Hierdie skildery fokus op twee perspektiewe:

1) Dali laat ons van bo af na die kruisiging en Jesus kyk - ‘n hemelse perspektief – God wat Homself aan die kruis sien. Al kyk mens af op Jesus in die skildery, word jou oë ook op gedwing deur die uitbeelding van die kruis. Dit wys dat die kruisiging oor God gaan en nie oor ons nie. Oor wie Hý is en dat Hý na ons toe kom. Dit wys ook dat daar geen plek is waar God nié is nie.

2) Die tweede perspektief is aan die onderkant van die skildery. Dit voel of ‘n mens reguit daarna kyk – asof dit op jou vlak is. Hier word twee vissermanne uitgebeeld wat ons aan Markus 1 herinner. In werklikheid teken Dali sy tuisdorp wat ‘n Spaanse vissermansdorpie was. Hiermee beeld hy die individualiteit van die kruis vir elkeen van ons uit. Die kruis is vir almal maar spesifiek ook vir JOU. Dali teken hierdie pragtige skildery wat so vol betekenis is toe hy terugkeer na die Christelike geloof toe. Dit wys sy diep verstaan van ‘n God wat in ons wêreld intree en sigbaar word.

Vir my is die mooiste aan die skildery dat daar geen spykers geteken word nie en ek hou van St Catherine of Siena se woorde: “He is held to the cross by love and not by nails.”

Mag hierdie diep liefde waaraan ons nou weer herinner is, ons lewens lei en rig.