Die Emmaus verhaal

Lukas 24:13-35
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Rembrandt, die bekende skilder, het 7 keer in sy lewe die Emmaus-verhaal op die skilderdoek vasgelê. Tydens sy lewensreis het hy telkens anders gedink oor en geluister na die Emmaus-verhaal. Elke keer wanneer hy dit weer geskilder het, het die skildery ‘n ander boodskap weergegee.

Die eerste keer wat hy die verhaal geskilder het, was in 1629 toe hy 22 jaar oud was. Hy het Jesus geteken by die punt waar almal in verbasing Hom skielik herken het. Jesus was – baie onduidelik - so aan die regterkant van die skildery.

In 1634 het hy getrou. Hy het weer die punt van herkenning geskilder maar hierdie keer met Jesus effens duideliker, steeds aan die kant van die skildery.

In 1642 sterf sy vrou en 3 van sy 4 kinders.In 1645 skilder hy weereens die verhaal. Hierdie keer skilder hy nie die punt van herkenning nie, maar hy beeld die gebeurtenis uit toe Jesus uit hulle gesigsveld verdwyn. Jesus is weg... Hy is nie meer sigbaar nie...

Vanaf daardie moment het twee verskuiwings in sy uitbeeldings plaasgevind:  hy verskuif Jesus na die middelpunt van die skildery en, met verloop van tyd, word die buitelyne van Jesus al duideliker. In sy laaste skildery teken hy Jesus in die middel van die twee Emmaus-gangers waar hulle nog op pad is en Hy by hulle teenwoordig is in hulle broosheid en hartseer!

Deur die loop van sy lewe het Rembrandt die Emmaus-verhaal verskillend verstaan. Soos sy lewensverhaal ontvou het en dinge met hom gebeur het, het die manier waarop hy God beleef het, telkens verander....

Wie is jy tans in die Emmaus-verhaal?
Hoe sou jy die verhaal skilder?