Die buffel ken geen metafisika

Ef 2:1-10
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk
 
“Die buffel ken geen metafisika...” Dit is die eerste woorde uit ‘n gedig van DJ Opperman met die titel: Vuurbees. In hierdie gedig slaag die digter meesterlik daarin om die verskillende vlakke van bewustheid te beskryf. Aan die een kant is daar die buffel. Die buffel reageer op instink. Hy karnuffel die kalf en besnuffel die koei. Die buffel is nie bewus van die groter wêreld buite homself nie. Die mens daarenteen kan deur tegnologie ‘n wonderlike groter wêreld onderskei. Die mens kan grottekeninge maak van die buffel. Die mens kan deur gereedskap en die tem van vuur veel meer bereik as die buffel.

Die afgelope week kon ek vir die eerste keer saam met my kinders deur die wildtuin ry. Ons was gelukkig om heelwat mooi dinge en diere te sien; onder andere baie buffels en olifante. Telkens was ons bewus van die diere juis omdat die pad vol tekens van hulle teenwoordigheid was. Die mens is in staat om vir hulle te kyk en hulle vir ‘n paar oomblikke te bewonder en dan weer aan te gaan met ons lewens.

Binne die konteks van die Efesiërs-brief skryf die skrywer ook oor ‘n verskil in bewustheid. Die skrywer herinner sy leser daaraan dat almal vroeër vasgevang was in ‘n ander bewustheid.
“Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.” (Ef. 2:1-2)

Deur God se groot liefde en genade is ons saam met Christus lewend gemaak (vgl. Efe. 2:5). Hierdeur wil die skrywer ‘n baie duidelike onderskeid tref tussen die lewe wat hulle vroeër geleef het en die lewe wat hulle nou in Christus leef. Dit is wie hulle nou is.

Dit is wat die opstanding van Jesus vandag nog vir ons beteken. Dit gee ons nuwe oë vir God se wêreld. Dit stel ons in staat om deur God se liefde te leef. Dit stel ons in staat om dieper dinge te onderskei en oor sake te dink. Tog loop dit die risiko dat ons ‘n posisie van meerderwaardigheid kan inneem. So dikwels is ons so oortuig van ons saak dat ons vreeslike skade kan aanrig. Ons verwoes verhoudings en los ‘n bloedspoor agter as bewys daarvan.

Die bedoeling van die gedeelte is beslis nie dat ons in hoogmoed verlore raak nie. Nee, hierdie nuwe bewustheid, nuwe identiteit, nuwe lewe, is nie te danke aan ons eie toedoen nie. Dit is ‘n gawe van God (vers 8).

DJ Opperman se gedig eindig eintlik met ‘n baie waar opmerking - soveel as wat die mens die vermoë het om te onderskei tussen hom/haarself en die buffel, net soveel vermoë het die mens om te vernietig. Uiteindelik is die vraag – wie is die eintlike buffel?

Mag ons deur God se genade nie buffels wees nie, maar mense wat leef uit God se genade.