Die heldhaftige vrou

Spreuke 31
Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Ons lees dikwels van vroue in die Bybel. Sommige van hierdie vroue het sterk karakters en was ‘n voorbeeld vir dié rondom hulle asook vir ons wat van hulle lees.
 
Ander vroue in die Bybel het ‘n minder goeie reputasie gehad; ‘n mens kan weer by hulle leer wat jy nie moet doen nie.
 
Dan is daar die moeders. Ons het juis die afgelope Sondag Moedersdag gevier. Die vrou is die hart van die huis. Dit laat my dink aan die verhaal in die Ou Testament van koning Lémuël van Massa.
 
Hoe sal jy daarvan hou as daar in die Bybel met selfs net een sinnetjie na jou verwys word? Al sou dit net een enkele sin wees, sou dit nogtans ‘n besondere eer wees, nie waar nie? Sou so ‘n eer jou te beurt val, sou jy sekerlik nagedink het oor wat die Bybel van jou moet sê. Daar is net een sin in die Bybel oor koning Lémuël; daarom weet ons nie veel van hom nie. Bybelgeleerdes dink hy was dalk ‘n sjeik wat in koning Salomo se tyd gelewe het. Wat het hy gedoen wat van soveel waarde getuig dat die Bybel hom noem?
 
Spreuke 31:1 “Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het.”
 
Ons sien hier dat hy een van die min mans in die Bybel is wat sy moeder genoeg geëer het om die woorde waarmee sy hom opgevoed het, neer te skryf sodat ons dit 4 000 jaar later steeds kan lees. Gewoonlik voel ons sommer so bietjie platgeslaan wanneer ons Spreuke 31 lees. Die vrou wat daarin beskryf word, bedreig ons. Sy klink perfek.
 
Vanoggend wil ek die gedeelte van ‘n ander kant af benader. Die klem lê op die seun wat die woorde van sy ma so hoog geag het dat hy dit neergeskryf het. Spreuke 31 word dikwels as ‘n soort handleiding vir vroue gebruik. Kyk ons na die konteks waarin dit geskryf is, sien ons dat die Joodse mans die gedeelte totaal anders benader het. Een keer per week aan tafel sou die Joodse mans die woorde vir hulle vrouens lees. Dié woorde is dus as ‘n man se aanmoediging en dankie-sê bedoel.
 
Spreuke 31 wil ons nie vra wat ons alles doen nie, maar ons eerder aanspreek om dieper te kyk na hóé ons dinge doen.
 
Die verwagtings wat ons van die lewe en van onsself en ander het, verklap meer oor onsself as wat ons dink. Die Spreuke 31-vrou kan nie in ‘n blik gedruk word nie. Gelukkig nie!
 
Elke vrou wat die Here en sy wil soek, is ‘n heldhaftige vrou! Daarvoor behoort sy gekomplimenteer te word. Mans moet dit doen en vroue kan dit gerus meer vir mekaar en vir hulleself doen.
 
Seën
Ds. Karin