Brand die vuur van inspirasie nog in jou?

Handelinge 1:8
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Pinkster is elke jaar vir my ‘n realiteitskontrole. Ek word herinner aan die werk van die Here se Gees en dan vra ek myself af of ek nog in lyn is met God se werk in hierdie wêreld. Ek lees die verhaal van Handelinge en ek wonder of die vuur van inspirasie nog in my hart brand.

Staan ek nog op vir die evangelie?
Vertel ek nog vir mense van Jesus?
Is ek ‘n inspirasie vir ander?

Die Here het ons vertrou om die werk wat Hy begin het na Hemelvaart voort te sit. Jesus het die verantwoordelikheid om die koninkryk van God te laat kom op ons skouers geplaas. Om ons daarmee te help, het Hy sy Gees vir ons gegee. Die primêre werk van die Here se Gees is om ons te herinner wie Jesus is.

Hy is ons inspirasie.
Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand. 17:28)


Hierdie “asem” van God lewe elke dag in my en jou. Dit is die vuur, die krag van God, wat in jou lewe wil uitspoel soos lewende water. Jy is vervul met God se Gees sodat jy die koninkryk kan laat kom. Vandag nog!

Wat maak jy daarmee? Onderdruk jy dit? Ignoreer jy dit? Vergeet jy daarvan?

Dalk glo jy nie dat die Here se Gees in jou is nie. Dalk is jy so besig met ander dinge wat jy verafgod dat jy nie meer die werk van die Gees in jou lewe toelaat nie. Dalk is jou aandag so ver weg van God se werk in jou lewe dat jy nie meer sien wie God werklik is nie.

Bekeer jou! Laat die Heilige Gees toe om weer die vuur van die evangelie in jou hart te laat opvlam. Fokus op die Here. Kyk uit vir die koninkryk. Wees deel van die Here se werk in mense se lewe.

Die Here wil jou gebruik om te inspireer en lewe te bring.
Die Here wil jou gebruik om SY koninkryk te laat kom.

Komaan!
Laat die vlam van God in jou asemhaal sodat jy die wêreld om jou inspireer.