Wat is jou storie?

Eksodus 19:6a
Geskryf deur Olga Ludwick

Wie is ons?
As gemeente glo ons God het ons geroep om Hom te aanbid, onsself te ken, mekaar te versorg en in die wêreld te getuig.
 
Miskien het jy al hierdie woorde gelees of gehoor, maar is dit deel van jou? Dalk is die vraag eerder: “Ken jy die storie waarvan jy deel is?”
 
Die laaste ruk voel ek opnuut bekoor deur dié storie. My storie. Jou storie. Óns storie. God se storie.
 
Ken jy dit nog?
 
Ons storie begin lank terug – toe God die aarde geskep het. God het geskep, maar toe het mense drooggemaak. God het egter ‘n plan gehad: Hy gaan ‘n mens gebruik om vir ander mense ‘n seën te wees (Gen. 12:1-3) en sodoende God se trou, liefde en geregtigheid sigbaar te maak. God roep mense: “Vir my sal julle ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees” (Eks. 19:6a).
 
Soos in ‘n voorspelbare fliek het ook God se mense gesukkel en net weer drooggemaak, daarom stuur God vir Jesus om vir mense te leer en te wys wat God bedoel het met “’n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie”. God word dan mens in Jesus, sodat God se plan beter verstaan kan word, juis deur die mense, die nasies. God wil alle mense en selfs die aarde seën met Goddelike liefde en geregtigheid.
 
Daarna kom die Heilige Gees oor dié wat glo en maak dit moontlik vir gelowiges om anders as die norm van die wêreld te lewe. Die Heilige Gees se transformerende krag kom oor elkeen, sodat ons kan deel in God se storie van ‘n “koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie”.
 
Na hierdie vlugtige oorsig van ons storie, los dit my egter met die vraag: Wat beteken dit om ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie te wees?
 
Om dit te verstaan moet ons eers verstaan wat ‘n priester is. ‘n Priester is iemand wat tussen die gewone en die heilige staan en vir jou wys hoe God lyk. Dit wat ‘n priester doen en sê, wys vir jou waaroor God omgee.
 
God nooi jou uit om vir die wêreld te wys hoe God lyk.
 
Met die opdrag van “‘n heilige nasie” moet ons werklik ons storie ken. ‘n Heilige nasie is die teenoorgestelde as ‘n nasie wat gekenmerk word as gierig; geweldadig en een wat sy mag misbruik. ‘n Heilige nasie is een wat medelye het; wat geregtigheid najaag en uitleef; en een wat omgee vir die vreemdeling en verstoteling.
 
Hierdie identiteit as priesters en ‘n heilige nasie is dalk nog ‘n bietjie moeilik om te verstaan, maar die tien gebooie help ons daarmee. Wanneer ons die tien gebooie lees asof ons die hele storie tot op die letter saam geleef het, dan maak dit meer sin. Dan klink dit so:

  • My menslikheid, my identiteit, is gekoppel aan God, daarom weet ek daar is net een God – die God wat menslikheid aan alle mense wil skenk.
  • Ek kan nie vir God vasvang in ‘n beeld nie, want God is nie staties nie. God se beeld raak deur ons optrede en lewens sigbaar. Dit is ook waar vir die woorde wat ons spreek en gebruik. In ons monde moet God se Naam veilig wees.
  • God skenk ook aan ons die opdrag om te rus en vir ander die geleentheid te gee om te rus, want omstandighede waarin mense nie kan rus nie, is onmenslik.

Die tien gebooie wat dan verder volg gaan alles daaroor dat God se nasie niemand onderdruk of leed aandoen nie. God se nasie help mense om los te kom van onderdrukking. Dit is om God se genade; liefde; geregtigheid aan die swakkes en die vreemdes aan te bied.
 
Jy is deel van hierdie storie. God se storie.
 
God nooi jou uit om vir die wêreld te wys hoe die God van liefde en geregtigheid lyk, daarom glo ons God het ons geroep om Hom te aanbid, onsself te ken, mekaar te versorg en in die wêreld te getuig.
 
Mag jy jou storie ken en leef.