Tuis wees

Psalm 122
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk

Almal is nie ewe lief vir honde nie. Vir baie mense is honde iets wat hare en kieme by jou huis inbring. Ek verstaan mense wat so voel en ek respekteer dit. Maar... ek is nie een van daardie mense nie. Honde was nog altyd vir my ʼn bron van enorme vreugde. My heel eerste gedagte nadat ek vir die eerste keer beroep is, was om na die pastorie te kyk op Google Earth. Al wat ek wou bepaal was of die erf groot genoeg sou wees vir ʼn skaaphond.
 
Ek is op die oomblik besig om ʼn boek van ʼn teoloog te lees waar hy ernstig nadink en navorsing doen oor die geestelike aard van honde. Hierdie navorsing het begin nadat sy agtjarige seuntjie ʼn kruis op hul geliefde Labrador se kop geteken het. Dit het hy gedoen net nadat die hondjie deur ʼn veearts uitgesit moes word. Die vraag wat die teoloog vra is waarom hierdie hond so ʼn diep geestelike impak gehad het op hulle huisgesin.
 
Hierdie vraag het baie dinge vir my uitgewys in my eie lewe. Daar is byvoorbeeld niks wat sê ek is by die huis, soos wanneer my honde my by die hek kom groet nie. Met die sterte wat waai en die eerste lek deur my gesig weet ek dat ek tuis is. Ek is by die huis.
 
Psalm 122 vertel ook van so ‘n tuiswees. Die psalm vorm deel van die pelgrimspsalms wat tradisioneel deur Israeliete gesing is op pad na Jerusalem.

“Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.” En nou is ons hier binne-in jou, Jerusalem!” (vers 1-2)

Die tempel was vir die Israeliete die plek gewees waar God self tuis was. Dit was daar waar jy God kon ontmoet. Waar jy vrede en vreugde kon beleef ten spyte van alles anders wat in die wêreld aangaan. Natuurlik het hulle ook geweet God is buite die tempel ook maar dit was hier in die tempel, in sy teenwoordigheid, wat jy geweet het jy is tuis.
 
Ek wonder nogal op die oomblik of mense steeds so oor God dink. Ons weet die kerkgebou vang nie God se teenwoordigheid vas nie. Daarom kan jy natuurlik tuis wees by die Here op soveel verskillende plekke. Tussen vriende, in die natuur of tydens Bybelstudie. Maar tog dink ek nie dat hierdie plekke ʼn plaasvervanger kan wees vir ʼn gesonde geloofsgemeenskap nie.

Tydens elke doopgeleentheid belowe die gemeente saam met die dooppaartjies dat hulle die gemeente ʼn geloofstuiste sal maak vir hierdie kinders. ʼn Plek waar die liefde en vrede van God beleef sal kan word. Werk ons almal nog aktief daaraan?

In ʼn tyd soos hierdie is dit van kardinale belang dat ons gemeente, ons geloofsgemeenskap, ook hierdie gebed van Psalm 122 sal bid en sal uitleef.

Ter wille van my •broers
en vriende sê ek graag:
“Mag daar vrede in jou wees!”
Ter wille van die huis
van die Here ons God
wil ek die goeie vir jou nastreef.
(Psalm 122:8-9 - Nuwe Direkte Vertaling)