Toe Jesus weggeraak het

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

“Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde.” – Lukas 2:46-47

Dit is my, en ek vermoed elke ma en pa ook, se grootste vrees dat ons kinders iewers sal wegraak, veral as hulle nog klein is. Dit maak nie saak waar julle tans staan nie; hulle is net so lief daarvoor om binne sekondes sommer te begin hardloop. Hierdie optrede het my al met baie empatie laat kyk na die ma’s wat met hulle kinders aan een van daardie “hondjie”leibande loop. Ek weet waardeur julle gaan ...
 
Jesus het ook eenkeer weggeraak. Sy ouers het, soos elke jaar, Jerusalem toe gegaan vir die groot Fees. Toe die fees verby is, het hulle begin terugreis. Ons lees in Lukas 2 dat die kind, Jesus, in Jerusalem agtergebly het sonder dat hulle dit agtergekom het. Dié woorde sal enige ouerskapskenner se hare laat rys. Na ‘n dag se soek onder die reisgeselskap en hulle Jesus nie kon kry nie, het hulle teruggekeer Jerusalem toe om verder te soek.
 
Ek wil my nie vir ‘n oomblik in Maria en Josef se skoene plaas tydens daardie soektog nie! Eindelik kry hulle Hom in die tempel waar Hy rustig sit en luister na die geleerdes.
 
Ek hou baie van Lukas se woordkeuse van: Hy het gesit en LUISTER en VRAE gevra en almal wat Hom geHOOR het, was verbaas oor sy INSIG.
 
Ek sien iets so kenmerkend van Jesus raak in Lukas se woorde waar hy die twaalfjarige seun beskryf; Hy maak ons regdeur die evangelies bewus van ‘n sekere manier van saamwees met ander.
 
Ons weet baie min van die vroeë jare van Jesus se lewe. Dis eintlik net die laaste drie jaar wat regtig neergeskryf is. Hier waar Lukas vertel van Hom as jong seun, word ons reeds daarvan bewus dat Hy ‘n spesifieke houding teenoor die lewe gehad het - een van sit en luister. Dis ‘n manier van leef waar ander gesien en gehoor word.
 
Om werklik te sit en luister, beteken dat jy jouself kan leegmaak van al jou antwoorde en vooropgestelde idees. Daar is ‘n “ekkigheid” in ons waarvan ons ontslae moet raak deur ‘n proses van geestelike groei. En hoe ouer ons word, hoe moeiliker raak dit – met rede, want jy het al geleef en ervaar en weet baie.
 
Heilige nuuskierigheid is om regtig te luister. Jy is ontvanklik om waarlik die persoon te ervaar en te hoor.
 
Die grootste geskenk van luister, is dat daar ‘n ONTMOETING moet plaasvind. Dit is iets waarna ons almal smag. Dis hoe daar lewe in ons kom. Dis hoe genesing plaasvind.
 
Mag die jong seun, Jesus, ons leer om nie weg te hardloop van ons lewe af nie maar om waarlik te luister.