Die Here gebruik jongmense!

1 Samuel 16:11-13
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Vandag vier ons Jeugdag. Dié dag word in baie lande gevier. Dit is ‘n dag wat ons herinner dat jongmense ‘n wesenlike deel van ons samelewing uitmaak. Dit is ook ‘n erkenning dat die jeug in die geskiedenis groot verandering meegebring het. In ons eie land word Jeugdag op 16 Junie gevier. Op hierdie dag in 1976 het die skoliere in Soweto opgestaan teen die taalbeleid van die destydse regering. Op hierdie dag is Hector Pietersen doodgeskiet. Hierdie foto het een van die mees ikoniese foto’s van jongmense se opoffering en kwesbaarheid in die wêreld geword. Hierdie dag se gebeure het ‘n groot impak op ons geskiedenis gehad. Jongmense het ‘n groot impak op ons land se geskiedenis gehad!

Die leierskap van jongmense het deur die eeue, nie net in Suid-Afrika nie maar ook wêreldwyd, verandering teweeg gebring. Dink aan name soos Greta Thunberg, Anne Frank, Nkosi Johnson, Joan of Arc, Bobby Fischer, Malala Yousafzai en vele meer.

In stede soos Parys, Beijing, New York, Santa Barbara, Seattle en ander het studente verandering meegebring deur op te staan teen sake soos onderdrukking, klimaatsverandering, oorloë en ongeregtigheid.

Die geskiedenis is vol van verhale oor die belangrike rol wat die jeug in ons wêreld speel.
In die Bybel is meeste van die name wat ons ken jong leiers. Samuel, Josef, Joshua, Rut, Timoteus, Ester, Daniël, Jeremia, Salomo, Maria en Jesus. Ons vergeet dikwels hoe jonk hierdie leiers was wat die Here in sy plan gebruik het.

Ons lees in 1 Samuel 16 dat Dawid ‘n jongman was toe die profeet hom as koning kom salf het. Meeste kenners reken Dawid was ‘n tiener van vyftien toe die Here hom geroep het. Dit was waarskynlik voor hy twintig was dat hy vir Goliat oorwin het en nie lank daarna nie het hy die troon bestyg. Dawid het op ‘n jong ouderdom een van die belangrikste rolle in die geskiedenis van Israel gespeel.

Die Here gebruik jongmense!

In die NG Kerk het jongmense nog altyd ‘n belangrike rol gespeel. Een van die grootste bewegings in die NG Kerk was in die sewentigerjare die Jeug-tot-Jeug Aksie. Meeste predikante wat in daardie jare teologie studeer het, is deur hierdie beweging geïnspireer. Sedertdien is kategese, jeugaksies en bewegings soos Imagine steeds deel van ons kerk se verbintenis tot jongmense.

Op Jeugdag moet elke jongmens in ons gemeente hoor dat die Here hulle vandag steeds roep om ‘n verskil te maak. Jongmense is vandag belangrik. Hulle stemme moet nou gehoor word. Dit is nie nodig dat jongmense eers moet “grootword” voordat hulle ‘n bydrae in ons gemeente kan lewer nie. Hulle moet nou hul roeping opneem en vir die Here ‘n dienende dissipel wees.
Dit beteken dalk om teologie jou roeping te maak. Dit beteken dalk om ‘n leier te wees met ander waardes en norme as die res van die skool. Dit beteken dalk om ‘n dissipelskapgroep of ‘n beweging te begin. Wie weet!?

Kom ons vier vandag die ongelooflike bydrae wat jongmense kan lewer!