Maskers en warm asem

Genesis 2:7
Geskryf deur: Prop. Olga Ludwick

Met die derde golf van COVID 19 is ek baie bewus van my asem. Ek sit my masker op en voel benoud. Ek haal my masker af en voel éérs benoud. Ek maak die vensters en deure oop sodat ek vars lug kan inasem. Soggens neem ek ‘n reuse asemteug wat my longe groot laat swel net om seker te maak dat ek nog kan.
 
Hierdie pandemie is oorweldigend. Ons is almal benoud en bekommerd. Almal ken iemand wat al hieraan siek was of tans is óf dalk self siek is. Ons is moeg gewag vir die siekte om verby te gaan en dalk nog meer moeg vir die planne wat kort-kort moet verander en al die ekstra beplanning wat in alledaagse take ingesit moet word.
 
Met al die bekommernisse wat saam met die pandemie gaan, is almal maar ‘n bietjie ekstra krapperig en kort van draad. Ons is pandemievoos. Die ou advies van haal asem en tel tot tien, kom by my op. Vir byna enige groot pyn of oorweldiging is die advies eintlik dieselfde – haal asem. Die rede hiervoor is eenvoudig. Diep asemhaling het tonne voordele. Dit ontspan die hele liggaam; verlaag stresvlakke en bloeddruk; help om pynvlakke te beheer en nog vele meer.
 
Met ‘n masker oor my mond en neus is ek ekstra bewus van my beperking om diep en vrylik asem te haal. Tog is daar iets goed omtrent hierdie bewustheid van my asem. Dit herinner my aan ‘n vers in Genesis 2:7 – “die Here God het die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende wese geword.”
 
Ons lees dat God self sy asem in ons geblaas het om ons lewe te gee. Neem gou ‘n groot teug asem. Voel jy dit?
 
Haal weer diep asem en lees dan die volgende vers:
 
Kolossense 1:27 – “God het besluit om aan julle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid.”
 
Dalk is die lewe tans baie oorweldigend vir jou. Dalk voel dinge moeilik, te veel of selfs onmoontlik.
 
Haal asem.
 
Dalk is jy hartseer.
 
Haal diep asem.
 
God is met jou.
 
So naby soos ‘n asemteug.
 
Jy gaan nie alleen deur al hierdie dinge nie. Jou asem – iets wat jy outomaties doen; iets waarsonder jy nie kan klaarkom nie – is ‘n herinnering dat God by jou is. Dat God jou lief het en vir altyd by jou sal wees.
 
Breathe, Be, Love
-Anonymous
 
Between Moonset and Sunrise,
Between High Tide and Low Tide,
Between In-breath and Out-breath,
there is a moment to touch balance,
there is a moment to touch stillness,
there is a moment to touch infinitude;
and in that moment,
there is spaciousness,
there is freedom,
there is peace,
there is awareness,
that all arises from Love,
that all abides in Love,
that all reveals Love,
that all is
receives being
from Love.
Be
still
and
You
will
know.
 
Mag jy elke keer wanneer jy jou masker aansit en gefrustreerd en geïrriteerd voel; wat jou bril laat toewasem óf wanneer jy die warm kondensasie van jou asem voel – mag dit vir jou herinner dat God in jou is en dat jy nie alleen is nie.