Drome

Genesis 28:10-22
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk

Droom jy nog? Ek bedoel nie die drome wanneer jy slaap nie. Ek bedoel drome in die sin van ideale en visies. Drome in die sin van toekomsbeplanning. Iets wat jy in die verte sien wat jou opgewonde maak. Iets wat jou laat uitsien om daar uit te kom.

Die prediker sê dat baie van ons drome nooit realiseer nie... dit kom tot niks (Prediker 2:6). Het jy dit al ervaar? Het dit dalk al veroorsaak dat jy ophou droom? Jy weet tog jou drome kom tot niks, daarom droom jy nie meer nie.

My aanvoeling is dat baie van ons al van ons drome moes begrawe. Om ‘n droom te begrawe, kan ‘n baie traumatiese ervaring wees. Net so kan dit gevaarlik wees om in ʼn droomwêreld te leef waar ons nie in voeling is met die werklikheid nie en daarom moet ons as gelowiges saam dink oor God se droom vir ons.

Die bekende verhaal in Genesis 28 het ook te make met ʼn droom. Wanneer Jakob hierdie droom kry, is hy by breekpunt. Hy is deur sy eie toedoen van sy familie geïsoleer, hy vlug vir sy lewe en het nie eers ‘n plek om sy kop neer te lê nie - hy gebruik ‘n klipkopkussing (is dit nie ‘n heerlike woord nie?). Die droom wat hy droom, is eintlik nie sy droom nie; dit is God se droom vir hom.

In hierdie droom maak God ʼn paar beloftes. God belowe eerstens dat hy ‘n nageslag sal hê. Ons sou dit vandag kon vertaal met die woord: toekomsverwagting. God droom dat Jakob ‘n toekoms sal hê. Ten spyte daarvan dat dinge op daardie stadium baie donker vir hom gelyk het, wil God hê hy moet die teendeel glo.

Hierdie belofte verwag met ander woorde iets van Jakob. Hy moet leef met ‘n toekomsverwagting. Hy moet nie in sak en as gaan sit nie. Hy moet opstaan en deelneem en saam met God droom.
God maak nog ‘n belofte: “Ek is by jou en ek sal jou beskerm” (vers 15). Hy gee vir Jakob die moed om oor die toekoms te droom met die wete dat Hy hom sal bystaan. Die Hebreeus is eintlik hier so mooi. Direk vertaal sou mens kon sê: “Ek is by jou en ek hou jou vas – waar jy ook mag gaan.”

Kom ons droom saam met God. Kom ons herinner mekaar daaraan dat God vir ons ‘n toekoms gee in ‘n tyd waar baie drome verdof en verdwyn. Laat ons daardie toekoms tegemoet gaan met die wete – God is by ons en Hy hou ons vas.