Huis

Lukas 15:11-32
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Die verhale van lidmate wat vertel dat hulle weer nader aan die Here beweeg, inspireer my. Ons moet almal daaroor dink. Jy moet jouself afvra of jy “tuis” is.

Die gelykenis van die verlore seun het meer as een perspektief. Uit die oog van die jongste seun moet hy sy pad huis toe vind. Hy moet bely en terugkeer. Aan die ander kant moet die oudste seun verstaan dat hy eintlik by die huis is, terwyl hy nie verstaan waaroor sy pa se hart gaan nie. Hy moet deur sy jaloesie, bitterheid en wettisme werk. Vanuit die pa se perspektief is die oordeel van die gemeenskap oor die skaamte wat sy seun oor hul huis gebring het van mindere belang. Sy hart dryf hom om sy seun tegemoet te hardloop en terug te verwelkom. Op dié manier is sy hele familie weer tuis.

Elkeen van ons het nodig om in tye soos hierdie na te dink oor wat “huis” beteken. Waar is die plek in ons verhouding met ons Vader waar ons werklik veilig is? Waar is die plek in onsself waar ons werklik “tuis” kom?

Elkeen weet wanneer jy nie werklik op daardie plek is nie. Iewers het ons dalk gaan eksperimenteer met ander vorme van “huis”. Uiteindelik kom jy agter dat dit nie werklik tuiskoms is nie. Dit is nie werklik die liefdevolle en veilige plek van jou Pa nie.

Ander van ons is so in ‘n wettiese godsdiens opgeneem dat ons ons Vader se hart verloor het. Ons is eintlik gedrewe deur selfsug, maar sien dit nie raak nie. Ons is verblind deur wettisme en fundamentalisme.

Stop vir ‘n oomblik. Sien jou Pa raak. Die Pa wat na jou toe aangehardloop kom toe jy verwag het Hy gaan jou verwerp. Die Pa wat jou, daar waar jy agter die huis werk, kom soek. Want Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.

Eers wanneer jy stop en Hom werklik sien, sal jy besef waar jy moet wees.

Die uitnodiging staan.

Kom huis toe.