Krake

Matteus 6:10a
Geskryf deur Prop. Olga Ludwick

Ek bid die Ons Vader-gebed en meteens val die woorde nuut op my oor. Soos wat ek hierdie woorde van Matteus 6 hoor en bid, voel dit asof ek ingenooi word. Ek haak by vers 10a vas Laat u koninkryk kom. Wat beteken dit dat God se koninkryk kom?

Wanneer ons oor God se koninkryk lees, kan ons nie die prentjie van ‘n menslike koninkryk oproep nie. God se koninkryk is heeltemal anders as enigiets wat ons al gesien of van gelees het. God se koninkryk is ewig. God regeer nie oor ‘n afgebakende plek nie, maar oor die heelal – oor ALLES. Dit gaan dus nie oor waar God regeer nie, maar HOE God regeer.

God regeer nie om een persoon of groep te bevoordeel nie. God se regering het ‘n sterk gemeenskaplike karakter. Amper soos die bekende gesegde “One for all and all for one”.

Om ‘n duideliker prentjie van God se koninkryk te kry, kan ons Jeremia 22:3 lees: So sê die Here: “Laat reg en geregtigheid geskied, en red dié wat beroof word uit die hand van die verdrukkers. Vreemdelinge, vaderloses, en weduwees moet julle nie mishandel of geweld aandoen nie…”
Omdat ons deel is van God se familie, beteken dit dat ons na mekaar omsien en die beste vir mekaar wil hê, want ons besef dat God se koninkryk nie nog moet kom nie, maar dat dit reeds aangebreek het. Ons kan dus nie anders as om raak te sien dat God se koninkryk oor vrede gaan nie. Nie net vrede nie, maar ook dat mense deel mag hê aan God se feesmaal as gelykes. Dit gaan alles oor OMGEE.

Soos wat ek hierdie gebed bid, klop die uitnodiging al hoe harder aan my deur. Ek besef dat ek genooi word na ‘n proses wat my gaan uitdaag. ‘n Proses van groei en verandering. Die gebed berei my voor om iets te DOEN.

God se koninkryk is hier en nou. In die krake van ons gebrokenheid; die krake van ons gebroke wêreld – daarin lê vrugbare grond wat lewe bring.

Dit gaan nie oor die groot dinge nie, maar die klein alledaagse dingetjies. Hoe ek met mense praat. Hoe ek oor mense praat. Hoe ek besigheid doen. Hoe ek met ander werk.

God se koninkryk breek deur, oral waar ek klein besluite neem wat vrede en hoop bring. Hoe lyk dit in jou lewe? Hoe lyk dit as God se koninkryk die krake in jou lewe vul?

Laat u koninkryk kom…
 
‘n Uitnodiging.

Mag jy dit aanvaar. Mag hierdie gebed jou aktiveer om deel te neem aan God se koninkryk. Mag jy deel wees van iemand anders se storie van hoop.