Vir 'n tyd soos dié

Ester 4
Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Partykeer dink ons nie genoeg na oor waarom ons ons op ‘n spesifieke plek in ons lewe bevind nie. Ander kere weer wonder ons gedurig daaroor. Partykeer beland ons selfs op plekke waar ons nie graag wil wees nie. Ander kere dryf omstandighede ons na hierdie plekke toe. Hoekom moet ek soontoe gaan? Hoekom moet ek hier bly? Hoekom moet ek hier werk? Hoekom moet ek vandag met hierdie ou paaie kruis? Hoekom moet ek hierdie situasie hanteer? Partykeer, net soos met Ester, moet ons goed doen waarvoor ons eerder verskonings sou soek om dit nie te doen nie.

Vanaand is dit ons derde aand sonder elektrisiteit in hierdie klein deeltjie van die wêreld. Ek weet dat baie van julle wat hier lees, nou in dieselfde omstandigede is. Terwyl al bogenoemde vrae in my kop draai, begin ek dink of daar iemand in die Bybel is wat iewers in omstandighede was waarin hulle glad nie wou wees nie. Ester spring in my gedagtes op en binne oomblikke raak ek verlore in haar mooi verhaal. Gaan lees gerus die boek: Ester in die Ou Testament.

Die diepste indruk wat die boek op my laat, is dat God op ongelooflik fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur. Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in everything that is happening to you. So respond to everything that happens as if to respond to God’s action” .

Mordegai het Ester laat nadink oor die doel van haar lewe. In Ester 4:14 sê Mordegai vir haar hierdie woorde: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” Dit was toe sy huiwerig was om die koning in te lig oor ’n komplot teen haar volk. Net daar het Ester verantwoordelikheid vir haar mense se omstandighede aanvaar. Deur haar dapper optrede het sy haar volk se toekoms verseker. Net soos Ester is ons almal deel van die antwoord waarop ons gewag en gebid het. Ek wonder wat doen hierdie waarheid vandag aan jou hart?

Is dit alles net toevallig? Of moet jy die hand van die Here raaksien in die tyd en plek waar jy jouself nou bevind? Die meeste van ons het al gewonder wat is die sin en betekenis van my lewe. Wat is die doel van my lewe? Ons wil almal doelgerig lewe, ons wil voel ons beteken iets, maar die lewe kry net sin en betekenis die oomblik wanneer jy glo dat die Here jou op ’n tyd en ‘n plek neergesit het om vir Hom ’n verskil te maak. Net soos Ester is ons almal deel van die antwoord waarvoor ons bid en wag. God het ons ook gemaak vir die tyd en omstandighede waarin ons leef. Dit is wat Ester moes hoor. Sy moes raaksien dat die Here haar daar wil gebruik waar Hy haar neergesit het. Toe Ester besef daar is ’n rede waarom sy is waar sy is, het sy met moed en oortuiging gedoen wat sy moes doen.

Is daar nie ‘n Goddelike rede waarom jy vandag Christen in Suid-Afrika is nie? Jy sien, ons sal ’n nuwe uitkyk op tyd en omstandighede kry as ons meer oor Mordegai se vraag nadink. Mense sal anders lewe en sal anders werk as hulle besef daar is ’n rede waarom hulle is waar hulle is en doen wat hulle moet doen. Ons roeping lê daarin dat, wanneer ons by die huis instap, by die werk instap, na alles op sosiale media kyk en luister, ons dit doen met die geloof dat die Here my nou hier en op hierdie plek gesit het. Dit sal ons doelgerig laat lewe!

Mag Mordegai se vraag jou bly pla. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy is waar jy nou is!

Amen