Verander jou leierskap “postuur”

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Ons gesels tans in die gemeente oor leierskap.

Elke gelowige is ‘n leier. Elke Christen wat iemand anders se lewe beïnvloed, is ‘n leier. Jy word genooi om in hierdie uitdagende tye dienend jou leierskap uit te leef en daarin te groei.
Tim Keel skryf in sy boek Intuitive Leadership dat ‘n gelowige leier ‘n sekere “postuur” moet inneem. Hy verduidelik dat hierdie postuur soos ‘n houding of ingesteldheid is. Soos wat jy ‘n goeie liggaamspostuur het, so moet ‘n leier ook ‘n sekere posisie inneem.

In die kerk word ons uitgedaag om ons “postuur” te skuif. Hy noem ‘n paar goed wat moet verander:

  • ‘n Postuur van leerbaarheid. Om ‘n posisie in te neem waar ‘n mens eerder die regte vrae vra as om die hele tyd antwoorde te verskaf.
  • ‘n Postuur van kwesbaarheid. Om meer vanuit ‘n hart van liefde op te tree.
  • ‘n Postuur van beskikbaarheid. Om meer daarop te fokus om jou woorde uit te leef eerder as om die hele tyd net te praat.
  • ‘n Postuur van stilte. Om meer stil te word in jou voorbereiding vir elke dag.
  • ‘n Postuur van oorgee. Om gemaklik te wees dat jy nie alles kan beheer nie.
  • ‘n Postuur van kultivering. Om ‘n kultuur te skep eerder as om alles te programmeer.
  • ‘n Postuur van vertroue. Om kreatief te wees in stede daarvan om die hele tyd te verdedig.
  • ‘n Postuur van vreugde. Om ook te lag en nie net te werk nie.
  • ‘n Postuur van afhanklikheid. Om te beweeg tussen gee en neem.

Ons word op soveel plekke in ons lewe beïnvloed met hoe die wêreld oor leierskap dink, dat ons vergeet dat Christene ‘n ander raamwerk van leierskap het. Ons sien talle voorbeelde in die Bybel waar die Here vir ons leer dat leierskap nie oor mag gaan nie, maar oor diensbaarheid. Om koninkrykswaardes as leiers uit te leef, moet ons as Christene ander leierskapseienskappe uitleef as die wêreld.

Die Here nooi jou om in jou leierskap te groei. Skuif jou “postuur”. Dink na oor jou houding in leierskap. Dien die koninkryk van die Here deur jou invloed uit te leef op maniere wat ander mense dien. Maak hierdie eienskappe sigbaar by jou werk, of in jou gesin of in jou verhoudings. Of jy in ‘n leierskapsposisie is of nie – jy het ‘n invloed. Die Here wil hierdie invloed gebruik om deur jou met dienende leierskap die wêreld te verander.

Die Here het jou nodig!