In die put

Gen 37: 39-43
Geskryf deur Prop. Olga Ludwick

In ‘n donker gat
 
Verbeel jou jy is ‘n eerlike en hardwerkende persoon. Jou ouers het jou lief en bederf jou. Jy voel die potensiaal binne in jou – ‘n potensiaal baie groter as wat enigiemand raaksien. Maar dan loop dinge skeef. Vinnig en lelik skeef. Jy knip jou oë en jy is in ‘n donker gat. Jy knip weer jou oë  - en nou moet jy van voor af bou: jy werk hard; jy is eerlik en getrou. Maar in nóg ‘n oogwink loop dinge skeef. Jy het nie beheer daaroor nie. Jy baklei daarteen maar dan… weer die donker gat.
Klink hierdie storie bekend?

Dit is Josef se storie. Daai Josef met die mooi jas. Dis ‘n bekende verhaal, maar juis daarom lees ons dit so vinnig en mis die diepte van hierdie donker oomblikke. Ons raak nie hartseer as Josef in die put gegooi word nie en ook nie wanneer hy in die tronk beland nie. Ons ken mos die storie – hy gaan sterker en beter aan die ander kant uitkom. Inteendeel, hy gaan ‘n belangrike man word en baie mense help.

Maar vandag wil ek stilstaan by daai oomblik – die oomblik in die pikdonker put.
Ken jy dit?

Die moedeloosheid. Die aanhoudende gemaal van gedagtes: Hoe het dinge so skeef geloop? Waar het ek gefouteer? As ek maar net… Wat gaan volgende gebeur? God – hoe nou? Red my uit hierdie situasie!

Dit is in hierdie oomblik – die put-oomblik – waar Josef se verhaal my herinner aan God se karakter.

God werk in die lelike en koue plekke. God het nie sy rug op jou gedraai nie. In Jesaja 43:5 sê God: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou”.

Josef het nie gekies om as slaaf verkoop te word nie. Hy het nie aangejaag sodat daar rede was om hom in die tronk te gooi nie. Sy verhaal herinner my aan Eugene Peterson se woorde: “God deals with us where we are and not where we would like to be”.

Miskien bevind jy jouself op ‘n lelike, koue of donker plek. ‘n Plek wat jy nie gekies het nie en nou soek jy verwoed na ‘n uitweg. Miskien ervaar jy ‘n put-oomblik. Mag jy dan onthou dat Josef se verhaal nie eindig in die put óf in die tronk nie. Josef bly getrou aan wie hy is. Hy vertrou op God se karakter. En self nog meer – God bly getrou aan God se karakter.

Josef se verhaal is nie ‘n maklike een nie. Dis ‘n verhaal van iemand wat groot sukses en groot mislukking beleef. Herhaaldelik, oor en oor.

Tog is dit ‘n verhaal van iemand wat die pad saam met God gestap het. Wat geweet het dat, ten spyte van die verlies en verloëning wat hy beleef het, van die koue donker oomblikke, God steeds by hom is. God se karakter bly onkreukbaar.

Mag jou donker en koue put-oomblikke ook ‘n plek van ontmoeting wees. Mag jy God in hierdie oomblikke raaksien en opnuut bewus raak van God se grootheid en trou. Mag jy God se ewige liefde en sorg beleef ten spyte van die donker oomblikke.