Wat help dit?

Matteus 21:12-17
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk

Die afgelope week moes ek ‘n relatief ingewikkelde gesprek oor die Drie-eenheid voer. Soos ‘n tipiese dominee het ek maar begin met die geskiedenis en hoe die moeilike teologiese konsep oor eeue heen ontwikkel het. Die betrokke persoon kom uit ‘n heeltemal ander tradisie as ons en daarom het my gereformeerde antwoorde nie altyd gelyk of dit bevredigend was nie.

Uiteindelik het ek besef ‘n mens moet die gesprek “prakties” benader. Ek besluit toe om eerder te getuig oor die rol wat God tot dusver in my eie lewe gespeel het en hoe ek God as Drie-enig beleef. Dit was asof die gesprek makliker geword het en minder geforseerd was. Skielik probeer ek nie meer om iemand te oortuig nie maar begin ek getuig.

Almal maak dikwels hierdie fout. Ons raak vasgevang in die beginsels, die tegniese aspekte, van die lewe terwyl ons vergeet dat die beginsels daar is om ons met die lewe te help. Die oomblik wanneer iets ons nie meer help nie, moet ons onsself afvra waarom ons daarmee besig is.

Dit is dalk waarom Jesus die gelykenisse ingespan het. Wanneer Hy met mense oor die koninkryk van God gepraat het, het Hy dit dadelik prakties gemaak. Sy gelykenisse was altyd gemik op die leefwêreld van die mens. Dit is oor alles wat in die tempel aan die gang was dat Jesus so kwaad geword het. Dit het nie vir Hom daaroor gegaan dat daar handel gedryf is nie. Die groter probleem was dat hulle die doel van die tempel verloor het. Die tempel was bedoel om ‘n gebedshuis vir al die nasies te wees. Die tempel was bedoel om mense nader aan God te bring. Die tempel was bedoel om mense te help.

Dalk moet ons ons prioriteite heroorweeg. Wat doen ons om deesdae te help? Help dit ons wanneer ons oormatig negatief is? Help dit ons om in debatte oor inentings vas te haak? Help dit ons deur soveel dinge van die agterste sitplek af te probeer bestuur? Ek het beleef hoe dit help om eerder te fokus op die dinge waarby God betrokke is. Ek het beleef hoe dit help om te getuig eerder as om te oortuig. Wie weet, dalk help dit jou ook.