Wat ek vandag nodig het...

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

‘n Seuntjie vra eendag vir sy ma waarom sy so ‘n paar grys hare het. Sy antwoord dat elke grys haar kom van iets wat hy verkeerd gedoen het. Hy knik so ingedagte en sê: “Nou verstaan ek, dit is hoekom ouma heeltemal grys is!”

Daar is egter ‘n ander grysheid wat meer besonders is - ‘n grysheid wat ‘n teken is van wysheid, nie van spanning of ‘n gebrek aan melanien nie. Die spreekwoord sê: “Sy is grys.” Daarmee bedoel ons glad nie dat daar ‘n grys haar op haar kop is nie; net dat sy wys is ver bó haar jare. Dit is wat Spreuke ook sê:

“Grysheid is ’n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid.” (16:31).
Wat presies bedoel die Bybel met die woorde in Psalm 111:10 en op ander plekke: vrees vir die Here is die begin van wysheid? Wel, dit is die wegspringplek en die eindstreep van die geestelike lewensresies. In Hebreeus word die woord Yir’at (יִרְאַ֣ת) gebruik om die gedagte van gesonde vrees of “reverence” mee uit te druk. In Spreuke 9:10 lees ons dat wysheid begin met die vrees van die Here. Wysheid en ‘n betekenisvolle lewe begin daar waar mens jouself weer en weer in die verskillende seisoene van die lewe ondergeskik stel aan die outoriteit van God (Spreuke 111:10). Die definisie van Wysheid kom van die Hebreeuse woord “Hakam” af en is nie ‘n godsdienstige roetine of ritueel nie. Dit beteken ‘n bemeestering van die kuns van lewe in lyn met God se verwagtinge. Dit is die vermoë om met kennis en insig die regte keuses op ‘n gegewe oomblik te maak. Die boek, Spreuke, bevat van die grootste versamelings van tydlose raad en ware wysheid. Een belangrike tema vloei dwarsdeur die boek: Kennis begin met die dien van die Here (1:7). Wysheid kom van God af. Daar is drie dinge wat Spreuke ons leer oor wysheid.

Wysheid gaan oor impak

Wyse mense verreken altyd die impak van hulle woorde of dade op ander. Hierdie insig uit die Spreuke-wysheid is in wese ’n kritiek op die ongetemde individualisme van ons tyd. “Los my uit! EK doen wat EK wil.” Volgens Spreuke is dit ’n dom of dwase lewenshouding. Dit het implikasies vir die gewone lewe. Die wysheid van Spreuke is duidelik. Dit is dom om jouself nie nadenkend en deeglik af te vra na die implikasies van woorde en dade nie.

Wysheid is prakties

Wysheid is die besit van kennis met die doel om dit toe te pas - die vermoë om die kaf van die koring te skei. Wyse mense ontwikkel die vaardigheid om te weet wat regtig belangrik is en wat nie. Dit verg vaardigheid of oordeelsvermoë om te weet wanneer om wat te doen/sê. Wyse mense eet nie alles vir soetkoek op nie, weeg dinge sorgvuldig teen mekaar op, vertrou volkome op die Here en maak nie staat op eie insigte nie.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (3:5 – 6). ‘n Groot gebrek in ons samelewing is nie aan kennis nie, maar aan wysheid. Kom ons pas dit toe wat ons wel weet en laat gaan dit wat ons nie weet nie.

Wysheid is nederig

‘n Wyse persoon is nie volmaak nie, maar hy is leerbaar en aanvaar regstelling wanneer dit gegee word. As jy wys wil wees, moet jy bereid wees om te leer. Dit is meer as om te dien. Dit gaan oor lewe met ontsag voor God - ’n heilige respek vir die Here. Die gewone lewe met sy keuses en gevolge van keuses hang ten nouste saam met jou verhouding met die Here. Die lewe word in die teenwoordigheid van die ontsagwekkende Here geleef.

Grysheid is nie ‘n ouderdom nie. Dit is ‘n toestand. Dit is ‘n manier van leef. Dit word gevind op die weg van geregtigheid. Dit is wysheid wat begin by ontsag vir die Here. Wysheid is om, waar die enigste manier van leef wat sin maak, by die Here te bly. Die lewe word in die teenwoordigheid van die ontsagwekkende Here geleef. Wie dit besef, is wys.

Mag jy streef na wysheid en op die regte plekke daarna soek!