Sonbrand

Hebreërs 12:7-13
Geskryf deur Prop. Olga Ludwick

Die lente is hier! Dit beteken die lae klere word minder; groen vingers word in die grond gedruk en bleek voete plons in waterpoele.

Die nuwe seisoen bied geleentheid vir tonne pret, maar nie sonder risiko nie.

Om pret buite in die son te hê, beteken dat jou vel blootgestel is aan die elemente – met ander woorde daar is ‘n kans dat jy sonbrand kan kry. Indien jy dit waag om ‘n nuwe aktiwiteit aan te leer of ‘n ou geliefde stokperdjie vir ‘n jongeling aan te leer, beteken dit daar mag dalk ‘n paar foute insluip en selfs ‘n verhoogde kans vir seerkry wees. Dink byvoorbeeld aan visvang, branderplankry of selfs fietsry. Elke nuwe aktiwiteit het sy eie risiko’s en uitdagings, maar terselfdertyd die belofde van genot en groei.

In ons geloofsreis is daar ook verskillende seisoene en geleenthede vir geestelike groei en verdieping. Maar dit vra iets. Dit vra dat ons bereid sal wees om ons lae klere uit te trek en die hitte van die son op ons kaal vel te voel. Dit vra dat ons bereid moet wees om dalk sonbrand op te doen.

Om op ‘n geestelike reis te gaan, beteken jy moet die regte houding hê. Jy moet bereid wees om te leer. Jy moet bereid wees om eerlik genoeg met jouself te wees sodat jy rou, gestroop en eerlik voor God kan staan. Rou eerlikheid met en voor God lei tog tot ‘n intieme verhouding met God. Onbeskaamd voor God.

Ons probeer soms om ons lelike plekke toe te maak. Dis asof ons nie daai deel voor God wil ontbloot nie. Ons wil nie erken dat ons kwaad en geirriteerd en gefrustreerd is met ons bure; ons omstandighede; of selfs met God nie. Ons trek eerder daai ekstra lagie klere aan om tussen ons kaal vel en God te staan.

Hebreërs 4:13 “Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.”

Ons flous net onsself. God ken ons. God ken jou. God ken jou met jou rooi gebrande en seer vel. Met jou lelik en jou mooi.

Om op die reis van geestelike groei en verdieping te gaan, is nie altyd maklik nie. Dit vra dat jy die mooi en die lelik van jouself ontbloot. Dit vra dat jy jou langmoue sal uittrek, jou wintersarms sal blootstel en buite sal speel.