Vryheid en verantwoordelikheid

Genesis 12:1-11
Geskryf deur Ds. Wouter van Wyk

Vryheid en verantwoordelikheid. Van kleinsaf het my pa hierdie konsepte by my probeer vasmaak. Vir hom was dit die kern van grootword. Om vryheid te verstaan, maar ook verantwoordelikheid na te kom. Hy het altyd die Heidelbergse Kategismus as voorbeeld gebruik. Sonde, verlossing, dankbaarheid. Ons is slawe van die sonde wat veroorsaak dat ons God nie kan dien nie. Jesus verlos ons van hierdie slawerny. Hy maak ons vry. Vry van sonde en vry van die wet. Hoe reageer ons op hierdie vryheid? Met dankbaarheid. Ons gaan leef die vryheid uit. Ons kan nie net die geskenk kry en niks daarmee doen nie. Ons moet dit uitleef. Vryheid het dus ook verantwoordelikheid.

Ek het onlangs bewus geword van ‘n enorme megakerk in Amerika wat feitlik oornag toegemaak het. Hierdie kerk was gebou op die beginsel dat mans verantwoordelikheid moet neem. Hulle moet Jesus dien, hulle moet vrouens kry en met hulle trou. Hulle moet werk kry en vir hulle vrouens sorg. Hulle moet baie kinders kry. Dit is hoe hulle die stad gaan oorneem. Vrouens moet daarom nie werk nie, want hulle moet die huisgesin versorg. Die wyse waarop hierdie beginsel egter uitgespeel het, het groot skade gemaak. Dit is een van die redes waarom die kerk toegemaak het. ‘n Mens kan nie die rol van man en vrou so vereenvoudig nie.

Een ding was vir my baie duidelik. Daar is ‘n hongerte by mense, dalk veral by mans in hierdie geval, om weer verantwoordelikheid te kan neem. Om iets te hê om voor te leef. Om ‘n doel te hê of ‘n missie te hê. Om te weet ons gaan êrens heen.

Daarom is Genesis 12 so ‘n belangrike teksgedeelte. Dit is by Genesis 12 waar Israel se storie amptelik begin. Hier kry ons God wat stop en ‘n verbond met ‘n man sluit; ‘n verbond wat vir sy hele nageslag geld. God belowe om ‘n pad te stap saam met hierdie familie. Hoekom? Sodat hierdie familie ‘n pad sal stap met al die ander nasies van die aarde. God “bederf” hierdie familie sodat hierdie familie ander families sal “bederf”. Hierdie is Abraham se identiteit maar ook sy verantwoordelikheid. Dit is as gevolg hiervan dat Israel gebore is. Dit is Israel se doel.

‘n Lewe sonder verantwoordelikheid, is ‘n lewe sonder doel. ‘n Lewe sonder ‘n doel, dompel ‘n mens in wanhoop. God gee vir ons ‘n doel. God gee vir ons ‘n verantwoordelikheid. Nie sodat ons weer kan slawe word van een of ander sisteem nie, maar sodat ons ‘n seën sal wees. Hoe seën ons vandag die mense rondom ons? Hoe dra ons die seën van die Here oor? Dink daaroor
want dis JOU verantwoordelikheid