Is God hier?

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

“Dit was God se wil; ons moet daarin berus.”
 
Dit is die trooswoorde wat mense dikwels vir iemand sê wanneer daar iets verskrikliks gebeur het. Dis die woorde wat tannie Alice se vriendin vir haar gee tydens haar groot verlies. Die woorde laat my in baie gesprekke ongemaklik, soos nou waar ek tee drink saam met die liewe tannie. Waar los hierdie woorde haar in haar geloof?

Jesus se woorde is immers duidelik in Matteus 26: 29: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” (‘83-vertaling)

Ek is nie so seker die ‘83-Bybelvertaling doen ons hier ‘n guns nie. In die ‘53-vertaling lees ons die teksvers só: 29”Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.”

Die 1953-vertaling is nader aan die Grieks: 29Word twee mossies nie vir ’n assarion verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie.

Kom ek sê dit sommer reguit: ons mág nie so oor die wil van God dink nie. Natuurlik is God se wil belangrik. Ons bid juis in die Ons Vader (Matt. 6:10): “Laat u wil geskied” en Jesus het dit in Getsemane gebid (Matt. 26:39): “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil”.
 
Ek wonder nogal hoekom die ‘83-vertaling in vers 29 “die wil van” ingevoeg het, want dit staan nie in die Grieks nie. Daar staan niks van die wil van die Vader nie!

Daar staan dat ’n mossie nie sonder die Vader op die grond val nie. Dis juis die punt: daar waar dinge gebeur, of soos hulle sê: daar waar die tekkie die teer slaan, daar is die Vader teenwoordig! Hy weet nie maar net daarvan nie; Hy is by wanneer dit gebeur. Dis nie asof Hy alles wíl nie; so asof Hý besluit: goed, nou gaan die mossie val of, nou gaan Ek soveel van dié een se hare laat uitval of ja, daardie een gaan nou siek word of ’n ongeluk maak nie.

God se wil en hoe dinge van dag-tot-dag gebeur, kan nie met ’n eenvoudige reguit lyn verbind nie. Natuurlik hou alles met God se wil verband. Natuurlik kan ons, en moet ons ook, iewers in alles wat om ons gebeur en met ons gebeur die hand van God sien.

Maar om dit met ’n reguit lyn aan God se wil te bind? Ek wonder darem.

Ek dink ons praat te maklik van die wil van God, asof ons nou juis presies weet wat God wil of nie wil nie. Ons praat van die wil van God en blameer Hom vir dit wat verkeerd is in ons lewe.

Nee, Hy was daar! Hy was daar om die arme tannie vas te hou, te vertroos, krag te gee. Hy was en is en sal altyd daar wees vir ons, ook nou in die onderstebo tyd waarin ons is. Dít is juis wat Jesus hier vir ons wil sê: niks gebeur sonder die Vader nie. Dis ook wat Dawid bely in Psalm 23, nie waar nie? God is daar wanneer die donker dieptes dreig om hom in te sluk. Dít, dié wete, dra hom deur die noutes. Of soos Paulus in Rom. 8:31 verder jubel: As God vir ons is, kan niks of niemand dit keer nie en kan niks of niemand ons van sy liefde skei nie.

Ons Vader is daar vir ons! Hy weet alles van ons af, selfs hoeveel hare ek het of nie het nie. Ons kan ontspan en die lewe voluit leef: Die Here is by ons. Hý sorg. Dít is die Goeie Nuus waarmee Jesus ons die lewe instuur.