Jy is genoeg!

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Ons kyk dikwels in die spieël en dink ons is 'n mislukking. Ons vertel vir onsself dat ons nie goed genoeg is nie. Ons dink ons moet eers beter, mooier en slimmer word voordat ons aanvaarbaar in ander se oë sal wees.

Ons kyk om ons rond. Ons sien ander mense wat suksesvol is. Ons sien op sosiale media die fotos van perfekte families. Ons vergelyk. Ons begeer. Ons wens.

Voel jy soms "useless"?

Die wêreld waarin ons leef laat ons gereeld voel asof ons te kort skiet. Dit is 'n wêreld wat ons onbewustelik forseer om te dink dat ons nog verder moet presteer om die erkenning van ander te verdien. Daar moet nog gewerk word aan wie jy is!

Ons is dikwels ook ons eie grootste vyand. Ons is hard op onsself. Ek vier nie wie ek reeds is nie. Ek dink net altyd hoe ek nog meer aandag kan gee aan hoe ek lyk, wat ek kan bereik en hoeveel ek nog kan besit.

Die Here dink nie so oor jou nie. Die Here kyk na jou en dink vir Hom is jy genoeg. Hy het jou geskep. Hy het oor jou gedink nog lank voordat jy gebore is (Psalm 139). Hy wil vir jou sê: "Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne!" (Jes 43:1).

Die Here se gedagtes oor jou is te veel om op te noem. Jy is die Here se skepsel. Hy het jou gemaak. En dit is genoeg!

Ons moenie ons selfwaarde vind in ons prestasie nie. Ons moenie ons identiteit koppel aan die wêreld se negatiewe denke oor wat jy kort nie. Wie jy is moet nie afhang van ander mense se opinies nie.

Vind jou selfwaarde by die Here.

Jy moet jou identiteit vind in die waarheid dat jy aan die Here behoort. Jy is syne.

Mag jy vandag hoor: "Jy is genoeg".
Mag jy oor en oor besef hoe lief die Here jou het.
Mag jy vandag vanuit hierdie gesonde selfwaarde leef.