Braaibroodjies bou bande

Lukas 15:1-2; Galasiërs 3:18
Geskryf deur Prop. Olga Ludwick

Almal hou van braaibroodjies. Ja, sommiges sit blatjang op die broodjie, of braai die uie vooraf, maar almal kan saamstem dat hulle liefde vir die dis begin het met die niks-fênsie-nie, gewone ou braaibroodjie. Iemand wat nog dink of hulle regtig na die braai wil kom, stem dan sommer in as hulle hoor daar gaan braaibroodjies wees.

Met die beperkings wat gelig is en die warmer weer begin mense weer lus word om bymekaar te kom. Lus om ‘n bietjie te braai. Ons besef weer dat ons samesyn en samekomste gemis het. Maar ons besef ook weer dat daar ‘n klomp mense is met wie ons nie oor die weg kom nie.

Daar is ‘n grappie wat iets soos dié lui: Op ‘n klein dorpie met 20 mense sal jy sommer 5 kerke kry. Die grappie is net snaaks omdat ons iets van ons Suid-Afrikaner kultuur besef: Elke keer wat ons nie met iemand saam stem nie, besluit ons om eerder ons eie ding te doen. Hierdie is eintlik ‘n baie ou beginsel en daarom het Jesus juis dit uitgedaag.

In Galasiërs 3:28 staan daar “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal een.”

In die tyd van die vroeë kerk was daar baie konflik. Elkeen moes hulle plek ken. Daar is nie met mense wat anders as jy dink, of lyk, of ruik, gemeng nie. Rykes het nie met armes gemeng nie. Niemand moes naby ‘n sondaar kom nie, want netnou raak jy ook vol sonde.

Maar Jesus het ‘n nuwe wêreld oopgebreek. Hy het saam met vuil sondaars geëet (Lukas 15:1-2). Hy het vir ons kom leer dat in die koninkryk van God almal welkom is aan die tafel óf om die braaivleis vuur! Selfs al verskil ons.

Jesus het vir ons kom wys dat die manier om met verskille om te gaan, is om saam te eet. Om plein braaibroodjies te maak en dit met daai persoon wie jy eintlik nie wil sien nie, te deel. Om saam te eet.

Ons almal wil deel wees van iets. Van ‘n beweging wat lig in ‘n donker en stukkende wêreld laat skyn. Ons wil behoort. Ons wil behoort selfs al is ons self bietjie vreemd. Ons wil ‘community’ ervaar.

Die enigste manier om deel te wees van so iets, is om deel te neem. “Community gaan oor die bou van shared memories” – Jaco Strydom.

Ons moet die afstand tussen ons en mense wat dalk oor ‘n paar goed verskil laat krimp. Ons kan nie vir mekaar lief wees op ‘n afstand nie. Ons moet ervarings met mekaar deel. Ons moet ruimte skep vir mekaar om eerlik te wees.

Om eerlik te wees beteken dat ons dalk nog meer met mekaar kan verskil. Van ons hou van blatjang op ons braaibroodjies; ander hou van gebraaide uie; en nóg ander verkies die broodjie sonder uie. Dis ook waar van die ernstiger en dieper dinge van die lewe. Soms kan ons net nie die ander se punt insien nie. Tog, as ons gemeenskap wil wees en beleef, beteken dit dat ons moet leer om na ons verskille vanuit ‘n plek van liefde te luister. Ons moet leer om saam te wees en te luister, sonder dat die verhouding op die spel is.

Ons is almal honger vir saam wees. Vir deel wees. Tog moet ons nuut besef hoe belangrik dit is om saam te sit en ‘n broodjie te deel. Mag jy dit besef. Mag jy mense wat van jou verskil sien as die wonderlike geskenk wat hulle is. Mag hierdie mense vir jou terugvoering en perspektief gee. Mag jy nuut leer om te deel. En mag daar met jou gedeel word.