AUTARKEIA

Filipense 4:11
Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Ek het ‘n nuwe gunstelingwoord: AUTARKEIA. Dit is ‘n Griekse woord wat onder andere deur Paulus gebruik is in sy briewe. Dit beteken om "genoeg te hê vir al jou behoeftes en tevrede te kan wees". In Filippense 4:11 staan daar: Ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Die Ou Afrikaanse vertaling lees: Ek het geleer om vergenoeg of tevrede te wees met die omstandighede waarin ek is. The Message vertaal dit: I've learned by now to be quite content whatever my circumstances. In Paulus se tyd was die Stoïsyne die mense wat veral oor tevredenheid of vergenoegdheid gepraat het. Filosowe in Antieke Griekeland, veral die Stoïsyne, het autarkeia geprys as ‘n deug; ‘n karaktereienskap wat begeer en nagestreef moet word.
Ons ‘behoeftes’ kan nogal ‘n lekker lang lys word.

Die historikus, Arthur Schlesinger, merk dat ons samelewing gekenmerk word deur wat hy noem inextinguishable discontent - onblusbare ontevredenheid of onvergenoegdheid.

Hierdie rusteloosheid is deel van ons geskapenheid. Die ou kerkvader, Augustinus, het gesê: “God het ons vir Homself gemaak, en ons hart bly onrustig tot dit rus vind in U.” Ongelukkig word die onrustigheid gekaap deur ‘n obsessiewe kultuur wat jou herinner dat jy net-‘n-bietjie-meer nodig het. Advertensies skep ‘n rusteloosheid en onvergenoegdheid wat slegs in een of ander utopiese ervaring vervul kan word.

Ons verkoop met ander woorde ervarings. Hoe meer ervarings, hoe gelukkiger. Op sosiale media kan ons hierdie ervarings selfs groter en beter laat lyk. Waar jy ookal kyk, word jy herinner dat jy iets mis of nie het nie. As ons na die geskiedenis kyk, het ons nog nooit so baie gehad in terme van goed en ervarings nie, maar ook nog nooit so gesoek en gesmag na meer en meer nie.
Tevredenheid word bepaal deur dit wat ons glo, jou geloof word bepaal deur wat jy sien. As ons die las van ontevredenheid wil afgooi, moet ons begin deur op te let waarna ons kyk.

Autarkeia beteken nie dat ons moet aanhou stoei sodat elke moontlike behoefte vervul word nie. Autarkeia gaan eerder oor net jou basiese behoeftes en om dan tevrede en gelukkig te wees wanneer net dit gedek is. Met ander woorde: met hoe min kan jy tevrede wees? Om kos te hê om te eet, ‘n dak oor ons kop en klere aan ons lywe (1 Tim. 6:6) is volgens Paulus genoeg. Dit is wat vergenoegdheid beteken – om nie deur omstandighede verhinder te word om vas te hou aan God nie. Gelowiges se tevredenheid word nie deur hulle omstandighede bepaal nie.

Hoeveel van ons kan opreg sê dat ons gelukkig sal wees met net daardie basiese behoeftes?

My raaiskoot is dat dit nie veel van ons sal wees nie; meeste sal dit armoede noem.

Mag die Here ons aanraak.