Kyk na jouself

Lukas 5:16
Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Hierdie tyd van die jaar raak dinge nogals rof. Jy is moeg, op en gedaan. Almal begin jou bietjie meer as gewoonlik irriteer. Jou lont is kort en die dae is lank. Boonop was 2021 op sigself uitdagend. Die pandemie, situasie in die land, beurtkrag, politiek en die ekonomie gaan sit nie sommer net in ʼn mens se klere nie.

Ons is geneig om so te fokus op Desember dat ons nie agterkom hoe swaar die lewe op ons skouers druk nie. Ons maak nie tyd vir onsself nie en daarom kyk ons nie mooi na onsself nie.
Dit is belangrik om na jouself te kyk - gouer as later.

Een van die dissiplines wat ons gereeld in ons lewe afskeep, is tye van stilte. Die lewe is vol geraas. Baie van ons maak nie meer tyd om werklik stil te word nie.

Die dissipline van stilte en afsondering is die basiese geestelike dissipline in die Bybel. In Lukas 5:16 lees ons: “Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.” Jesus het gereeld tyd gemaak vir stilte en afsondering. Jesus het na Homself gekyk as dinge te veel raak en mense te erg.

Hierdie dissipline is meer as net “praat met die Here”. Dit is die dissipline om werklik in jouself stil te word, te beleef wat jy “hoor”, leeg te word en vir God te hoor en te beleef.

Mense wat hierdie dissipline bemeester, beleef dikwels groei, hanteer spanning en stres makliker en beleef in hul alledaagse lewe die Here as baie naby.

Hierdie tyd van die jaar is stilte jou grootste vriend. Vat ‘n “solo-dag” - gaan stap iewers alleen, staan ‘n bietjie vroeër op en skep spasie in jou lewe.

Moenie te hard op jouself wees nie. Wees lief vir jouself.

Die genade van die Here hou jou vas.