Hou bene hou...

Esegiël 37
Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Hierdie tyd van die jaar is ons bene lam. Droë bene. Ou bene. Moeë bene.
Ek lees die week dat daar iets soos Novemberitis is. Dis die kondisie veroorsaak deur ‘n jaarlange aaneenhoudende opbou as gevolg van ‘n ononderbroke patroon van fisiese en emosionele arbeid. Diegene wat daaraan ly wys tekens van sosiale filter gebrek, taktloosheid, lostongsindroom en ‘n geneigdheid om in ongesonde gewoontes te verval…somtyds sjokolade. Dis seisoenaal en nie terminaal nie.

Esegiël 37 is ‘n skrifgedeelte vir hierdie tyd van die jaar. Klomp dor bene lê in ‘n laagte. Maar bene vertel stories en die storie gaan aan. God praat met sy profeet en vra of hy dink die bene kan weer lewendig word? Dis seker November want die profeet antwoord: “Net U sal weet, Here.”
God antwoord Sy profeet dan met die woorde, ‘in die bene gaan ek nuwe lewe blaas’. Ek dink vir ‘n tyd soos dié, het ons nuwe Gees in ons bene nodig. God se krag om ons sterk te maak vir die laaste deel van die jaar. 

Mag ons as gelowiges die eerlike getuienis uitdra, dat ons weet hoe dit voel om dor bene te wees, maar ons weet ook hoe dit voel as God nuwe lewe in ons inblaas.

Mag jy mooi genoeg na jouself en jou geliefdes kyk om te weet wat julle nodig het vir nuwe krag.
Mag jou bene nie net hou soos ons nader stap na kerstyd nie, maar hardloop om die goeie nuus te vertel – Immanuel – ons God is by ons. Selfs wanneer ons moeg is.

Ons as gemeente bid saam:

God wat steeds hier is.
God wat steeds luister.
God wat steeds krag gee.
Kom vernuwe ons nou.
Amen