Die laaste boodskap

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Die afgelope Sondag het ons as gemeente saam fees gevier. Elkeen kon iets beleef van die veertigjaar-gemeentefees wat ons nie in Augustus kon vier nie. Lewendige Kersmusiek het harte aangespreek en elkeen kon beleef hoe dit voel om weer almal saam te wees. Dit was ‘n ongelooflike ervaring!

Die grootste verrassing van ons Kers-Fees was die dag se geskenk: al die kos was gratis.
Na ‘n moeilike finansiële jaar - nie net vir die gemeente nie maar ook vir elke gesin - is so iets amper ondenkbaar. Skenkings van lidmate, vrygewige harte en borgskappe het dit ‘n ongelooflike realiteit gemaak. Die kerk is ‘n plek waar ons vir mekaar gee; net soos ‘n familie wat oor Kerstyd gee!

Mense het gesukkel om dit te verstaan. Ons is so gewoond daaraan dat “mense wat kan” vir alles moet betaal. Ons is ook daaraan gewoond dat die kerk die plek is wat vir lidmate vra en dan vir “ander” uitdeel.

Een van die ongelooflikste getuienisse van hierdie afgelope jaar was toe die Wapadrand substasie afgebrand het en ons gemeente almal in die gemeente en in die gemeenskap in dié tyd kerkterrein toe genooi het sodat jy gratis internet, pannekoek en elektrisiteit by die kerk kon kry. Dié boodskap het derduisende mense oor sosiale media bereik. Dit het selfs die koerant gehaal.
Dit is in Tygerpoort gemeente se DNA om gasvry te wees, om mense te verwelkom sonder om te veroordeel en te gee waar ons kan. Dit is dikwels moeiliker vir “die wat het” om ook soms te ontvang as om te gee. Dit is ‘n vreemde gevoel. Om te ontvang, moet jy iets van jou trots prysgee, nie waar nie?

Kersfees is ‘n tyd van ontvang. Ons moet die Here se grootste Geskenk in ons lewe toelaat. Hy het uit genade na ons toe gekom om vir ons die Lewe te gee. Dit verg van jou ‘n openheid en ‘n prysgee van ‘n sekere tipe beheer oor jou lewe. Eers dan sal jy werklik die geheim van die Koninkryk van God verstaan.

Hierdie jaar was uitdagend. Ons gemeente se laaste boodskap aan jou is ‘n geskenk. Dit is die hart van die evangelie: ontvang die Liefde wat jy nie verdien nie.