Soos jy is!

Geskryf deur Dr. Zander van der Westhuizen

Hier is dit! Die groot 2022. Die jaar skop vandag met ‘n groot gedruis af. Anders as laasjaar, toe ons telkens moes uitstel en onder regulasies gebuk moes gaan, begin 2022 selfversekerd. Ek moet sê – dit skep ‘n sug van verligting en opgewondenheid om uit te sien na ‘n nuwe jaar.

Ons gemeente begin hierdie jaar vol opgewondenheid met ‘n jaartema wat diep in ons bedieningspan se hart ingekruip het. Met ‘n diep bewustheid beplan ons al vir maande aan ‘n baie belangrike, dóg eenvoudige waarheid: Die Here is vir jou lief soos jy is. Ons nooi jou uit om hierdie jaar opnuut by Hom op te daag én om by jou geloofsgemeenskap op te daag.

Ons het soms die idee in ons kop dat daar ‘n lysie is waarop ons eers alles moet afmerk voor ons welkom is. Ek moet eers voldoen aan ‘n paar vereistes voor die Here (en per implikasie die kerk) my sal “inlaat by die deur”. Ek moet meer van dít, minder van dát en definitief glad nie só wees nie. Ons dink ons moet eers verander voor ons by die Here (en by die kerk) welkom is.

Dit is nie waar nie. Romeine 8:39 skree dit uit: Niks kan ons van die liefde van God skei nie!
Natuurlik moet ek werk, groei, verander. Natuurlik wil ek nader beweeg aan die gedrag van ‘n kind van God. Maar daardie verandering, daardie “perfekte” mens-wees is nie die voorvereiste vir toegang nie. Dit is die proses, daardie fantastiese ontdekking tydens jou reis wat jou help om te verstaan hoe die Here jou geroep en geskep het en nie die “bepalings en voorwaardes” nie wat die ingang na God se arms is.  

Dit is in elk geval nie die dominee, die vroom Christen of jou mede-gelowige wat jou verander nie. Dit is die Here self. En Hy begin altyd by: “Ek is vir jou lief. Jy is myne”.

Hierdie jaar herskryf ons die taal van ons gemeente. Ons maak “opdaag”-spasies bekend wat in-persoon, digitaal of hibried (hybrid) gaan plaasvind. Ons verander ons “voordeur” en ons gooi die deure oop met ‘n baie diep waarheid: Jy is welkom soos jy is!

Mag jy deel wees van hierdie nuwe hoofstuk in ons gemeente. Ons leef in uitdagende en nuwe tye. Jy is geroep om deel daarvan te wees.

Hierdie jaar daag ons jou uit om ‘n verskil te maak.
Nie met ‘n onbegonne taak nie, maar iets só eenvoudig.
Ons uitdaging aan jou vir 2022 is: daag op!