Iewers moet almal STOP

Geskryf deur Ds. Karin Steyn

Die jaar het nou behoorlik afgeskop en almal is terug in al ons roetines. Van hulle voel bekend en gee rustigheid. Ander gee nuwe energie omdat ons reeds twee jaar lank daarna verlang. Tog is daar so ‘n gevoel van “oorweldig wees” wat klaar oor jou skouers kom hang.

Die Israeliete was bang om honger te word as hulle dalk die kans vat om vir een dag, elke week, op te hou werk. Soms kan dit vir ons ook voel of ons net nie iets kan neersit nie, net nie mag stop nie.
Daar is een ding wat ons almal in die nuwe jaar nodig het en dit is tyd en plek vir asemskep. Dit verg praktiese veranderinge in hoe ons ons dae inrig as ons regtig ernstig is oor asemskep.

Kenners sê daar is vier vrese wat ons dryf om te leef met geen plek vir asemskep nie:
  • Die vrees om uit te mis.
  • Die vrees om nie van waarde te wees nie.
  • Die vrees om agter te raak.
  • Die vrees om ander teleur te stel.

Is daar dalk een van die vier wat jy herken in jou eie manier van doen en dink? Baba’s het net twee vrese – harde klanke of om te val…. dis al – die res is aangeleer. Laat mens nogal dink …

Waar God met Job praat, is die woorde die laaste paar dae in my gedagtes:
“Miskien moet jy die diere vra om jou te leer,
die voëls daarbo om jou te vertel,
of praat met die aarde dat dit jou leer
en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.
Wie van hulle weet nie almal dat die hand van die Here alles gemaak het nie?
Hy het al wat lewe, in sy mag,
die asem van elke mens.” (Job 12:7-10)

God herinner Job dat Hy TYD in sy hand het. Hy wil hê ons moet om ons kyk en die ritmes van die natuur raaksien. Hy het ons ook so gemaak.

Probeer die week iewers by ‘n dier, plant of enige natuurverskynsel te gaan sit, met ‘n verlange en openheid om God daarin te ontmoet. Laat dit met jou praat. Moenie dit evalueer of analiseer nie. Luister met al jou sintuie en wag geduldig totdat jy van God se teennwoordigheid daarin bewus word. Rus in hierdie bewuswording. Volg die roeringe van die Gees van God in jou hart.

Mag ons nie so vinnig begin dat ons vergeet om te stop nie. Mag jy ook nie vasgevang raak in maniere van doen wat jou verlam nie. 2022 is ons kans om nuut te doen, saam met asemhaal!

Gebruik dit goed.