Die liefde

Romeine 8
Geskryf deur Ds Karin Steyn
Die afgelope paar weke is alles in die winkels rooi en vol hartjies. Eergister was dit te kostelik om te sien hoe van die laerskool kinders met beertjies en kaartjies en ‘n ekstra huppel in hulle stap uitkom by die hekke na skool. Ek hoor hoe ‘n donkerkop seuntjie vir sy ma sê: “Mamma, ek dink daar is iemand wat van my hou…” en ek kan nie help om te glimlag waar ek staan en luister nie. Vir baie mense is Valentynsdag net ‘n bos blomme, ‘n fancy ete of ‘n teddiebeer wat in die kas gegooi word. Dalk op ‘n manier, sommer ‘n komersiële dag wat jou irriteer. Maar die jaar voel dit vir my anders…

Die afgelope 2 jaar het ons geleer dat TYD ‘n geskenk is. Om HIER te mag wees, by jou geliefdes, die grootste voorreg.

Ek het hierdie week, die onskuldige liefde om my raak gesien aan die eenkant, wat kaartjies uitdeel en rooi aantrek. Maar ek was in dieselfde asem herinner aan liefde wat braaf is. So tussen die kaartjies en hartjies moes ‘n graad 1 seuntjie sy mamma vir ‘n laaste keer groet. ‘n Tannie moes leer om sonder haar man van 40 jaar te begin leef. ‘n Vriendin moes haar man ‘n tweede kans gee. Dié oomblikke het my herinner dat die liefde ook broos is en binne daardie oomblikke is Jesus baie naby aan ons.

Met die liefde so in my gedagtes het ons jaar tema en teks sommer weer núút uitgestaan. Die ou vertaling praat so mooi oor die liefde van God: 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Jesus se liefde is hoër as die hoogste piek van Mount Everest 8,848km. Dit is dieper as die 10,91km van die diepte van die see. Jesus se liefde is langer as die omtrek van 40075 km van die aarde.

En selfs hierdie poging van my om te wys hoe lief God ons het, skiet nog te kort. God se liefde vir ons is eenvoudig net te groot vir my om te verstaan. Maar tog moet ek probeer om ’n stukkie daarvan deel te maak in my lewe, want sien, as ek ’n stukkie verstaan van die liefde wat God vir my het en dit wat Hy alles net vir my sal doen, gebeur daar iets in myself. Wanneer Jesus se liefde in my losgelaat word, wanneer ek ’n stukkie daarvan raaksien en toelaat dat dit in my lewe losgelaat word, word ek anders. Word ek ‘n draer van hierdie liefde in my wêreld in.
Stop vir ‘n oomblik en dink wat dit regtig vir jou wêreld beteken?

Johannes het ‘n baie mooi beeld om liefde reg te verstaan. Hierdie beeld het die verbeelding van duisende kunstenaars en teoloë deur die jare aangegryp. Dit is waar Johannes op die bors van Jesus lê. Hier is ‘n uitbeelding daarvan:
Wat gebeur wanneer ek op die bors van iemand lê?

Jy kan die persoon se hartklop hoor. Ons weet vandag dat die hartklop van die Moeder reguleer die hartklop van ‘n fetus binne in haar. Ons druk ook spontaan ons kinders teen ons bors wanneer hulle in pyn is. Daar is ‘n diep bewustheid oor onsself wat lê in God se vashou en druk teen Sy bors.

Ek hoop hierdie Valentynsdag het jou ook darem laat dink aan die liefde en wie weet, dalk ook ‘n bietjie brawer met jou lewe gemaak.