Seuns van Sebedeus

Matteus 4:18-22
Geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Sondagaand het ek die belydenisgroep in Lectio Divina (letterlik – “heilige lees”) begelei. Ons lees toe hierdie gedeelte in Matteus 4 saam. Die bedoeling van lectio divina is dat ‘n mens elke woord in die teks nuut lees, dat jy by elke woord sal stilstaan en daaroor nadink.

Ek het dit al baie gedoen met hierdie teks. Vir die soveelste keer is ek verbaas deur God se Woord. Hierdie sin spring toe vir my uit, want vir die eerste keer lees ek Sebedeus raak.
“Jesus het hulle geroep, en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.”
Vir my was die fokus altyd eerder op die dissipels. ‘n Mens bewonder hoe hulle die vermoë gehad het om alles te los en sonder vrae Jesus te volg. Ons sou lank hieroor kon gesels. Die dissipels was waarskynlik almal nog tieners gewees toe Jesus hulle geroep het om Hom te volg (hierdie is nogal ‘n gedagte om vir ‘n oomblik vas te hou...). Dit is nie wat my nou tref nie.

Vir die eerste keer lees ek die teks en ek staan in Sebedeus se skoene. Hoe moes dit vir daardie pa gevoel het in daardie oomblik? Dit was aan die begin van Jesus se bediening. Jesus het waarskynlik nog nie die reputasie gehad van ‘n suksesvolle rabbi nie. Kinders was veronderstel om hulle ouers se werk oor te neem. Kinders was veronderstel om later na hulle ouers om te sien. Hoe moes dit voel om jou kinders so te laat gaan? Hoe moes dit voel om jou kinders se welstand in iemand anders se hande te plaas? Hoe moes dit voel om skielik ‘n roeteverandering by jou kinders te sien wat jy nie beplan het nie?

Dit laat my wonder...

Wanneer moet ék daarmee vrede maak dat God dalk sy eie pad met mense stap?
Wanneer moet ék besef dat alles nie onder my beheer is nie, dat dinge nie altyd uitspeel soos ék dit in my kop uitgepluis het nie?
Wanneer moet ék kans gee dat dinge sy eie gang loop?
Wanneer moet ék vertrou dat God beter weet as ek?
En dalk die belangrikste - wanneer moet ék leer om sekere dinge eerder te laat gaan? Bekommernis. Haat. Verwyt. Spyt. Frustrasie. Foute. Tekortkominge. Drome. Ambisies. Ideale. Gewoontes. Verhoudings.

Ek wonder steeds hieroor. Ek hoop jy wonder saam met my.