Moedersdag

geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Die Rooms Katolieke Kerk het ‘n teks wat hulle dikwels tydens hulle dienste gebruik en ook sing. Die teks is getiteld “Salve Regina” met die volgende woorde in Latyn:
Salve Regina mater misericordiae: vita, dulcedo, et spes nostra, salve (Koningin, moeder van barmhartigheid: ons lewe, ons troos, ons hoop, ons groet u).

In ons tradisie is ons nie altyd (en ek oordeel tereg) gemaklik daarmee om Maria op hierdie vlak te plaas nie. Tog wonder ek of hierdie teks nie juis daarop wys dat gelowiges ‘n plek nodig het waar hulle iets van die sagtheid en aanvaarding van ‘n moeder kan beleef nie. Daar is iets heilig aan om in hierdie spasie te mag wees.

Wanneer ek Psalms lees, betree ek ook daardie spasie. Die psalms het ‘n broosheid en ‘n eerlikheid wat ‘n mens net in ‘n intieme verhouding tussen ouer en kind kry. Sommige psalms is kwaad en hard. “My God, my God, waarom het U my verlaat” (Ps. 22). “ “Waarom staan U so ver weg” (Ps. 10). Dit is so ‘n belangrike spasie want by jou ouers mag mens mos bietjie stoom afblaas. Vir baie mense is dit die rol wat hulle ma’s vervul. Jy mag mos dinge sê wat jy dalk nie heeltemal bedoel het nie. Jy mag mos bietjie skree en bietjie hard wees. Jy weet jou ma sal jou nie weggooi nie want sy verstaan jou.

Maar dan is daar ook psalms soos Psalm 57 - waar jy net vra vir hulp. Daar waar jy veilig in die Here se arms lê.
2 Wees my genadig, o God! Wees my genadig,
want by U soek ek skuiling.
Onder u vleuels sal ek skuil
tot die bedreiging verby is.
3 Ek roep na God, die Allerhoogste,
na God wat my sal help.
4 Hy sal uit die hemel antwoord en my red,
Hy sal dié wat my jaag, die stryd laat verloor. Sela
God sal antwoord in sy liefde en trou.

Ons verstaan dat ons verlossing deur Jesus Christus kom en dat ons toegang tot God kry deur Hom. Ons verstaan ook dat God nie vasgevang kan word in een rol nie. God kan Vader en Moeder wees want God is groot genoeg om beide rolle te vervul.

Ek eindig met ‘n stukkie wat ek by een van my vriende gesteel het. Hy skryf hierdie brief vir sy ma wat ‘n ruk gelede oorlede is.
"Ma moet kom inluister as ons die 8e Mei weer ons Moedersdagkonsert aanbied. Dis die eerste keer in drie jaar wat ons mag. Ons sing dan ‘n stuk genaamd Salve Regina mater misericordiae: vita, dulcedo, et spes nostra, salve (Koningin, moeder van barmhartigheid: ons lewe, ons troos, ons hoop, ons groet u). Ma sal nie al die woorde verstaan nie, maar Ma sal kan hoor wat dit beteken. Ma sal die verlange en hunkering kan aanvoel, want die fênsie woorde beteken eintlik maar net: “Ma, help my.”

Die Here is ook soos ‘n moeder. Jy kan onder sy vleuels skuil tot die bedreiging verby is. Jy kan die Here vra: “Here, help my.”

Genade en vrede
Ds. Wouter