'n Glasvloer

geskryf deur Prop. Olga Ludwick
Het jy al ooit gevoel asof niks meer sin maak nie? Dit waarvan jy nog altyd oortuig was, is jy nie meer seker van nie. Was jy al totaal en al lam gelaat deur die manier waarop dinge uitgedraai het? Jy het nooit gedink die lewe gaan so uitspeel nie.
Jou vrae word meer en meer en die antwoorde raak al hoe meer vaag.

Waaraan kan jy vashou?

Dit laat my dink aan Petrus wat op die water loop in Matteus 14:22-33. Hy het vir Jesus gesien. Hy kon Hom in die oë kyk, maar dit wat rondom hom gebeur het, het gemaak dat hy sink.
Wanneer die storms om ons woed -  dalk nog meer wanneer die storms binne ons woed -  raak ons vol vrae. Ons bevraagteken God. Ons bevraagteken onsself.
Dit is egter in hierdie storms wat die klipmuur om ons hart begin verkrummel en die hardkoppigheid versag sodat ons weer iets nuut kan leer.

Miskien voel jy skuldig, want as jy eerlik is… lees jy nie so gereeld Bybel nie; jy bid nie só baie nie en jy gee ook nie soveel soos wat jy seker eintlik kan nie. Dalk het jy drooggemaak.
Ons lees egter in die Bybel van karakters wat droogmaak – kyk sommer in Rigters, of na die konings, die groot name soos Moses en Ester. Hierdie mense het gejok, egbreuk en selfs moord gepleeg. Tóg word hulle getel onder die grotes. Tóg het God met hulle en deur hulle gewerk, want God kom na ons toe vermom in die alledaagse.

Dit maak nie noodwendig die storms makliker nie. Ons soek steeds antwoorde. Dikwels gryp ons na die konkrete antwoorde en hou dan vas aan die vertroue in ons tradisie om op God te vertrou, eerder as om wel op God te vertrou. Ons wil verhale hoor van ander mense wat op God vertrou het, eerder as om dit self spontaan te doen. En dan mis ons uit op die ervaring van ‘n ontmoeting met ‘n lewende God.

Richard Röhr verduidelik: wanneer mens ‘n opregte geestelike ervaring beleef, dan besef mens altyd dat jy nie weet nie. Die misterie van die ervaring dwing jou tot nederigheid.

Ek sien in die week ‘n video van ‘n seuntjie wat op ‘n glasbrug loop. Hy het rustig geloop totdat hy af gekyk het. Die oomblik toe hy af kyk, skrik hy en lyk dit asof hy gaan val. Hy het natuurlik nie geval nie, want hy was op soliede grond. Hierdie video is vir my ‘n goeie metafoor van wanneer dinge skeefloop en ons begin vrae vra. Dit voel asof ons val. Alles in jou is oortuig daarvan dat jy gaan val. Hoe kan jy bly staan? Want daar is ‘n glasvloer onder jou.
God is getrou aan sy karakter. Sy liefde en genade raak nooit op nie.

Matteus 14:30: Maar toe hy (Petrus) sien hoe sterk die wind was, het hy bang geword. Toe hy begin sink, skreeu hy: “Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

Jesaja 41:9-10: …jy, die een wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde af, wat Ek van sy verste dele geroep het, vir jou het ek gesê: “Jy is my dienaar, Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie. Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Wanneer die vrae sonder ophou kom en niks meer sin maak nie; wanneer dit voel asof alles skeefloop en jy besig is om te val – mag jy af kyk en sien dat daar ‘n Glasvloer is. Mag jy vaste grond vind in die wete dat:

Die Here is voor jou om jou pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is binne-in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die drie-enige God is by jou – van nou af tot in ewigheid.
Amen.