Perspektief

geskryf deur Ds Karin Steyn
In Handelinge 16 lees ons dat Paulus en Silas lyfstraf ontvang het. Net na die lyfstraf, lees ons: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.” (Handelinge 16:25) Hierdie gedeelte laat my altyd regop sit en wonder hoe het hulle hierdie perspektief behou?

Edith Eva Eger, wat die strafkampe van Auschwitz oorleef het, vertel dat sy twee soldate op dieselfde dag by ‘n mediese sentrum besoek het. Beide het hul bene in die oorlogsituasie verloor. Beide het dieselfde diagnose en dieselfde prognose. Die een soldaat, Tom, het in ’n fetale posisie op sy bed gelê. Hy het die lewe gehaat en was in opstand teen sy lot. Die ander ene, Chuck, was uit sy bed en in die rolstoel. Hy vertel hy het ’n tweede kans gekry. Soos hy deur die tuin in sy rolstoel gestoot word, het hy besef hy is nader aan die blomme en kan ook reguit in kinders se oë kyk (vgl. The Book of Joy. Dalai Lama, Desmond Tutu, Douglas Abrams. p. 196).
Dis ‘n perspektief wat gehelp het dat Victor Frankl (‘n bekende psigoterapeut en iemand wat Auschwitz oorleef het) besef het dat alles van ons weggeneem kan word, maar die vryheid om jou houding in elke omstandigheid te kies, kan nie. Elke dag, elke minuut, gee vir ons die geleentheid om ’n keuse te maak: óf jy kies om onder te gaan en toe te laat dat die ellende jou siel doodmaak, óf jy kies om nuwe betekenis en ’n beter doel aan jou omstandighede te gee.
In die kunste is “perspektief” die term wat gebruik word om aan te dui uit watter hoek ’n mens na ’n saak kyk. ’n Mens kan byvoorbeeld na ’n boom kyk van sy skadukant af, of van die kant waaruit die sonlig daarop val. Net so kan ’n mens in situasies in die lewe soms net die skadukante raaksien, of net die sonkante raaksien. Heel dikwels is daar sonkante én skadukante aan enige situasie. As ’n mens realisties na ’n situasie wil kyk, moet jy albei in ag neem. Vir gelowiges is daar egter ook ’n ander perspektief op donker situasies en dit is om dit as ’n geleentheid te beskou.
Teen die skadu’s in, bly die uitdaging om ons lig te laat skyn.
Kom ons bid die week die pragtige vertaling van Eugene Peterson:

God, investigate my life;
get all the facts firsthand.
I’m an open book to you;
even from a distance you know what I’m thinking…
Investigate my life, o God,
find out everything about me;
cross-examine and test me,
get a clear picture of what I’m about;
See for yourself whether I’ve done anything wrong -
then guide me on the road to eternal life.
 
Liefde & Vrede
Ds. Karin