Nul tot tien
geskryf deur Ds Wouter van Wyk
2 Korintiërs 12:1-10
Die wêreld bestaan uit twee verskillende soorte mense. Die “10 tot 0 mense” en die “0 tot 10 mense”.
Die “10 tot 0 mense” begin hulle dag met ‘n 10. Die son skyn, jy het lekker geslaap, jy is tevrede met die huis waarin jy woon. Maar dan gebeur daar iets wat jou dag omkrap. Jy laat jou tandeborsel val, jy sit in die verkeer vas op pad werk toe en daarvoor trek jy ‘n punt af. So hou hierdie soort mense telling van alles wat deur die dag verkeerd loop totdat hulle uiteindelik in die bed klim en die dag daarvolgens beoordeel. Die dag se waarde word bepaal deur hoeveel punte jy kon aftrek.
Die “0 tot 10 mense” werk andersom. Jy word wakker en is dadelik dankbaar vir nog ‘n dag. Dadelik plus jy ‘n punt. Jy lag vir ‘n simpel grappie wat jou kinders met jou maak. Jy plus nog ‘n punt. Jy kry ‘n boodskap van ‘n vriend of ‘n vriendin af en plus nog ‘n punt. Teen die einde van die aand kyk hierdie mense terug op die dag en beoordeel hul dag op grond van al die punte wat hulle kon optel.
Ek val maklik onder die eerste kategorie. Ek is bewus van alles wat ek het; en ek is dankbaar daarvoor. Maar my geluk hang eerder af van wat oorbly nadat ek alles wat verkeerd gegaan het, afgetrek het.
Ek dink iemand soos Paulus was waarskynlik eerder in die tweede kategorie.
In hierdie tweede brief aan die gemeente in Korinte sien ons dat Paulus tot die uiterste beproef is. Hy moes deurgaans sy gesag as apostel verdedig. Hy moes heeltyd sy kant probeer skoon hou. Sy waardigheid as mens en gelowige is aangetas. Tog is sy ingesteldheid hier aan die einde van die brief steeds duidelik. Hy lewe uit genade. Die Here se genade is genoeg. Hy eindig by 10.
Ek was verlede week in ‘n hospitaalkamer waar familie afskeid geneem het van ‘n vader. Die skoondogter het vir haar skoonpa vertel wat hy alles vir haar beteken het. Sy antwoord het my geroer. In ‘n bewerige, skaars hoorbare stem, met ‘n verswakte liggaam wat nie eers ‘n hand kon optel nie, was sy antwoord aan haar: “Dit is alles net genade.”
Dit was ‘n heilige oomblik en ‘n oomblik wat ek baie lank sal onthou. In hierdie man se swakheid het die krag van God deurgestraal.
Dit is wat dit beteken om uit genade te leef. Dit is wat dit beteken wanneer genade vir jou genoeg is. Dan fokus jy nie op tekortkominge en pyn nie. Jy sien wat jy het en wat die Here elke dag vir jou gee.
Ek hoop ek kan eendag ook so terugkyk op my lewe - van 0 tot 10 - met die antwoord: alles is net genade.
Genade en vrede,
Ds. Wouter van Wyk