Rebelse Roetine

geskryf deur Prop. Olga Ludwick
Daar is ‘n klein bietjie rebellie in elkeen van ons. Iets wat jou opstandig maak. Iets waaroor jy sterk voel. Soms het ons ook roetines waarin hierdie rebellie uitspeel.

Dink vir ‘n oomblik aan jou dag. Hoe lyk jou roetine? Watter dinge is deel van jou roetine wat vir jou energie gee? Wat doen jy om jouself te bemagtig? Hoe is God deel van jou roetine?

Jesus het ook ‘n roetine gehad. In Markus 1:35-39 lees ons:
Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid. 36 Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37 en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”
38 Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

Jesus het die roetine gehad om na ‘n plek te gaan waar hy alleen kan wees saam met God. Hierdie roetine was vir hom baie belangrik, veral as ons dit binne die groter verhaal lees. In die voorafgaande verse het Jesus ‘n klomp siekes genees. Die nuus het versprei en die mense was baie opgewonde oor Jesus. Hulle het begin om ‘n idee te kry van wie Jesus moet wees.

Die dissipels raak ook baie opgewonde. Dink maar self hoe jy sou voel as iemand waaraan jy gekoppel is skielik begin om baie aansien te kry. Jesus maak egter seker dat hy nie met hierdie idee meegevoer word nie. Hy sonder homself af by God en luister na God se stem. Die dissipels verstaan dit nie en gaan roep hom daar by sy alleen-plek om terug te kom en vir die mense te gee wat hulle vra.

Dis maklik vir ons om soos die dissipels te wees. Om meegevoer te raak in die dinge waarmee ons besig is. Ons prestasies en aansien. Die idees wat ons kry van wie ons veronderstel is om te wees. Die prentjies en idees wat sê hoe ons moet aantrek, hoe ons huise moet lyk en waar ons vakansie moet hou.

Maar Jesus se voorbeeld hou ons nederig. Hy wys vir ons dat daar ‘n ander manier is om ons tyd te spandeer en ons waardigheid vandaan te kry. Tyd saam met God.

Om ‘n oomblik van stilte by God deel te maak van jou roetine is rebels. Die wêreld se boodskap is hard en duidelik – moenie jou tyd en energie mors met iets wat nie produktief is nie. Jy kan mos daai tyd gebruik om te probeer voorkom met werk wat reeds agter is. Daar is belangriker en dringender dinge om te doen as om ‘n oomblik te vat.

Cas Wepner noem hierdie tipe van tydmors “heilige tydmors”. Om tyd te maak vir God is rebels. Dit druis teen alles wat die wêreld sê ons veronderstel is om te doen. Deur heilige tydmors deel te maak van jou roetine, laat jy toe dat God die res van jou dag beplan. Jy laat toe dat Hy die agenda bepaal. Die ingesteldheid en gesindheid waarmee elke ander item op jou lysie gedoen word.

Tyd saam met God iewers in jou roetine is noodsaaklik. In hierdie heilige tydmors ontdek jy wie God sê jy is, in plaas van wie die wêreld sê jy veronderstel is om te wees. In hierdie daad van rebellie ontdek jy dat jy onbeskryflik diep geliefd is en gemaak is om hierdie Goddelike liefde te gaan deel in elke krummel van jou roetine.

Mag jy in ‘n rebelse roetine val. En mag jy in hierdie proses ontdek hoe kosbaar en geliefd jy is.

Olga Ludwick