Die krag van 'n storie agter 'n liedjie

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Ek het die voorreg om weekliks GrootFM se Gospel Top 10 aan te bied. Dit het die afgelope tyd deel van my bediening geword. Ek geniet dit om meer as een rede: ek is iemand wat nog altyd glo in die krag van musiek en lirieke; die musiek is inspirerend (ek luister self in my kar daarna deur die week); en ek word gedwing om na nuwe musiek te luister wat ek nie andersins voor tyd sou maak nie.

Om dit insiggewend vir die luisteraars te hou, lees ek na oor die storie agter 'n liedjie.
Só het ek al byvoorbeeld die storie van Hillary Scott se "You can rest" ontdek. Sy het die liedjie geskryf saam met Dave Haywood om te pas by die boek van Katy Boatman met dieselfde titel. Dit is 'n dagstukkie-boek vir tienermeisies wat met angs en spanning worstel. Hulle word genooi om elke dag rus in die Here te vind.

Daar is ook ‘n ander storie agter 'n liedjie wat my diep getref het. Die onbekende Katy Nichole het onverwags hierdie jaar al wat 'n christenmusiekrekord is, gebreek met haar lied: "In Jesus Name (God of possible)". Hierdie liedjie het "viral" gegaan op verskeie platforms en binne 'n kort tyd geklim tot nommer 1 op 'n klomp Gospel Treffersparades in die wêreld (insluitend Suid Afrika). Meer as 3 miljoen mense het haar musiekvideo al op Youtube gekyk terwyl hulle bereken dat meer as 150 miljoen mense wêreldwyd al na hierdie liedjie geluister het (hierdie stastistiek vermeerder daagliks).

Die lirieke van hierdie lied is gebaseer op inskrywings wat sy in haar gebedsjoernaal gemaak het. Midde-in die Covid-pandemie het sy self deur 'n eie tyd van lyding gegaan nadat sy met skiliosis gediagnoseer is. Tussen twee operasies het sy gebid vir hoop en genesing. Sy het depressief geraak en na 'n bitter moeilike tyd is sy 'n tweede keer geopereer. Sy vertel in haar eie woorde:

"When I came out of the surgery, I saw the light again for the first time. I felt the weight of depression being lifted off of me," she recalled. "My spine was actually straighter with the hardware removed. Not only did I get my life back, but God also gave me my purpose."

Sy het 'n genesende en lewensveranderende oomblik beleef en dit met lirieke en musiek verwoord. Sosiale media het dit moontlik gemaak om dit te deel en die aangrypende waarheid is dat miljoene mense deur hierdie jong vrou se storie en musiek geraak is. Hulle het iets van 'n opregtheid in haar beleef. Miljoene mense was op soek na die woorde wat sy kon verwoord in 'n gebed wat almal wou bid:

            I speak the name of Jesus over you
            In your hurting, in your sorrow
            I will ask my God to move

Wat my tref, is wat die storie agter hierdie lied vir ons sê oor waar die wêreld is. Aan die een kant is dit ongelooflik wat tegnologie moontlik maak. Aan die ander kant is dit vir my 'n onthulling van hoeveel seer en nood daar in ons wêreld is. Dit verklap mense se soeke, se broosheid, se verlang na God en hul reaksie op Katy se eerlikheid is 'n bewys dat die wêreld op soek is na outentieke leiers.

Moenie te vinnig oor iemand se traan, kortstondige opmerking of openhartige deel van hul pyn kyk nie. Moenie dat dit by jou verby gaan nie. Ons het mekaar nodig.

Mag jy met wat jy doen die wêreld beïnvloed soos hierdie onbekende jong dame met haar musiek gedoen het.

Zander van der Westhuizen