Hoop in ons

geskryf deur Ds Karin Steyn
1 Petrus 3:16 “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”

Dis die begin van die 2de semester en so stelselmatig word ons dae bietjie langer en die koue om ons bietjie minder. Op ‘n manier voel hierdie tyd altyd soos ‘n klein, nuwe begin – so in die middel van die jaar.

Om my hoor ek baie stemme wat kla en ontevrede is met hoe dit om ons lyk, wat ons alles moet hanteer en wat alles besig is om te gebeur.  Dalk is dit beurtkrag, politiek, griep of dat jy nie die vakansie kon weggaan nie.

Hoop voel min.

Tog praat Jesus en die ander Nuwe Testament skrywers baie oor hoop: om uit te hou, al lyk dit donker. Die vroeë kerk se grootste getuienis is sekerlik hul HOOP in alle omstandighede wat so direk hulle optrede beïnvloed het. As daar een ding is wat ons juis nou nodig het, dan is dit hoop. Ons het iets nodig om aan vas te hou sodat ons moed het om vorentoe te lewe.

In die jare vytigs doen ‘n professor, Curt Richter, ‘n eksperiment met rotte. Hy het ‘n paar rotte in ‘n emmer met water geplaas. Hulle het binne ‘n paar minute byna verdrink. Curt het gewag tot net voor hulle verdrink het, hulle dan uitgehaal, afgedroog en ‘n rukkie vasgehou. Later het hy dieselfde rotte weer terug geplaas in die emmer met water, maar dié keer het die rotte aanhou swem.  Hulle het aanhou veg, met die wil om te lewe en met die wete: hoop is net buite die emmer. Dit het baie langer geneem as die eerste keer voor hulle moed opgegee het.
Met sy eksperiment het hy tot ‘n ongelooflike slotsom gekom: Die krag van hoop is groot. Die Bybel praat immers 129 keer daarvan.

Die dinge wat ons hoop gee, is gewoonlik nietig. Terselfdetyd, voel die dinge wat ons hoop steel, groot. Dit laat my net weer dink oor hierdie waarheid: Ons hoop is nie op beter tye en dae nie. Ons leef in hierdie wêreld saam met ander mense en die lyding en pyn en terugslae wat hulle tref, tref gelowiges ook. Soms nog meer, soos waarvan Petrus praat as hy sê  dat gelowiges soms lyding moet verduur juis OMDAT ons glo.

Wat is die hoop dan?

Ek dink ons geestelike voorvaders help ons baie met die vraag. Die Heidelbergse Kategisme, een van ons kerk se belydenisskrifte is in 1653 in die Duitse stad, Heidelberg, geskryf as ‘n leerboek vir skole om te verstaan wat dit beteken om te glo.   Dit word as volg verwoord:
Vraag 1: Wat is jou enigste troos (hoop) in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Is dit nie baie spesiaal nie!? Hulle sê nie hulle enigste troos of hoop is hul bankbalans of voorspoedige ekonomie of selfs gesondheid nie – nee, dat hulle in lewe en sterwe (dus selfs deur die dood) kan weet dat hulle aan Jesus Christus behoort.

Dis ons hoop.

Om God met my hele lewe en in alle omstandighede en ook in my dood te vertrou.
Seker een van die mooiste beelde uit die Bybel van hoop, kry ons in Psalm 131:
Psalm 131:1-3 “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. (2) Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. (3) Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”

Dis die beeld van ‘n klein kindjie wat bang is, maar dan sien hy sy ma is by hom. En dan is hy rustig. Die omstandighede het nie verander nie, maar hy het volle vertroue dat hy OK is want sy ma is by hom.

God is by ons.
Hier is 2 dinge wat die HOOP in my hart sterker maak:
  • Kyk na die wêreld met ‘n van “binne-na-buite” perspektief. (Ons dink informasie is mag, maar eintlik is insig ware mag.)
  • God is nie BUITE ons nie. Om vir onsself lief te wees is om vir God lief te wees. God openbaar homself deur ons.

Mag jy ook so bietjie HOOP los by iemand anders!

Met liefde,
Ds. Karin