Tafelgesprekke

geskryf deur Ds Wouter van Wyk
Matteus 15:21-28

Ek vermoed die tafel is amper so oud soos die mens. Ek kan my so verbeel dat Eva een oggend tussen die 8e dag en die sondeval vroegoggend vir Adam uit die vere loop haal het. Letterlik die vere, beddens was nie toe al nie. Adam het opdrag gekry om sy grootste vyeblaar aan te trek want die son was besonder warm en Eva is nie kansvatterig nie. Dan moes hy vier dikkerige braaistompe by die houthoop loop haal, hulle in ‘n reghoek pak daar neffens haar buitekombuis, en daai groot plat klip daar vlak by hulle sonbaaiplek by die stroom gaan uitsleep en op die stompe balanseer. Siedaar, die eerste tafel.

Die slim mense sê die Egiptenare was die eerste mense wat ‘n tafel in hulle argiewe vermeld het. So 2 500 vC. Hulle was nie noodwendig die uitvinders van die tafel nie, maar die nasies voor hulle het nog nie die woorde en letters gehad om ‘n tafel te beskryf nie. En hier gebruik ons vandag nog steeds tafels. Dís nou iets wat nie heeltemal uit die mode gaan nie…
Ons woord tafel kom van die Latynse tabula wat bord, plank of gelyk oppervlak beteken. En ‘n tafel is waarskynlik een van die groot gelykmakers in ‘n wêreld waar klas en rang sommige mense meer gelyk as ander maak. Want wanneer mense om ‘n tafel sit, kan almal mekaar in die oë kyk. Sommer so vierkantig.

Dis moontlik hieroor dat die teks oor die Kanaänitiese  vrou vir my so interessant is. Want die Kanaäniete en die Jode het mekaar nie in die oë gekyk nie. Daarom sou Jesus se amper onbeskofte optrede nie vreemd gewees het vir die mense nie. Veral ook omdat dit nog ‘n vrou was wat met hom praat. Dit is waarskynlik ook die punt van die verhaal. Dit is om te wys hoe mense normaalweg sou optree, maar dan kom daar ‘n “twist”. Want in plaas daarvan om om te draai en weg te gaan, hou die vrou aan. Meer nog, sy smeek om genade. Die Grieks daar lui - Kyrie eleison. Here, wees my genadig.

Genade is wat sy kry. Hoewel sy net voel soos ‘n hondjie by die voete van Jesus se tafel, prys Hy haar as iemand met “groot geloof”. Prys wat Hy nie eers vir sy eie dissipels gee nie. Skielik is sy nie meer iemand daar ver, ‘n heiden, ‘n vreemdeling nie. Sy is ‘n gas aan tafel. Die tafel word as’t ware, gedraai.

Sonder ‘n tafel sal ons spesie maar sukkel om vooruit te boer. Ons pak speelgoedsoldate op ‘n tafel uit en beplan ‘n oorlog. Neem oor of verloor, en teken agterna die vredesooreenkoms sommer by dieselfde tafel. Die kinders doen huiswerk by die tafel, Vrydagaand speel pa en sy pêlle kaart by die tafel. Saterdagoggend doen ma gou daar naaldwerk. Het iemand ‘n skeet, word dit ‘n operasietafel, moet ons ‘n ete voorberei, is dit ‘n kostafel, en Maandagoggend is dit weer ‘n wastafel. Kom die bure oor, is dit ‘n koffietafel, en terwyl jy Netflix kyk, is dit ‘n sytafel vir jou springmielies en bier.

Hoe lyk jou lewenstafel? Is dit ‘n plek van oorlog beplan? Is dit ‘n plek waar jy net al jou inkopies en gemors los, terwyl jy maar op jou skoot voor die TV eet? Of is dit ‘n plek waar God se genade uitgestraal word? Is dit ‘n plek waar mense sitplek het? Is dit ‘n plek waar wonde genees word. Waar gasvryheid en konneksie sigbaar is?

Ek wil glo dat God na ons tafels kyk en wil sê: “Man/Vrou – groot is jou geloof”

Vrede
Ds Wouter