Is daar nog iets om oor fees te vier?

geskryf deur Dr Zander van der Westhuizen
Die stemme oor die stand van sake in die wêreld en in Suid Afrika skree nou nie juis uit volle bors, "Kom ons vier fees!", nie. Ek moet erken - elke keer as ek brandstof moet ingooi is daar in my binnekant ook maar 'n stemmetjie wat moedeloos sug. Dit is nie uniek aan ons land nie. Gesels maar met 'n paar vriende oorsee en jy sal die bekommernisse in hulle stemme ook hoor.

Ons gemeente hou volgende week fees.
Ek wonder of daar nog iets is om oor fees te vier?

Die afgelope naweek verskyn daar 'n berig in die koerant met die opskrif: "Ontspan, SA se toekoms is meer rooskleurig as tevore, sê ‘n ekonoom". Ek is dadelik geïnteresseerd. Die positiewe leesstof is deesdae nie volop in die Afrikaanse media nie.

Die berig pak sorgvuldig Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investments Group, se redes tot 'n meer hoopvolle uitkyk op Suid-Afrika se ekonomiese toekoms uit. Ek lees dit en is dadelik bewus van die eeue-oue geneigdheid in ons as mense om altyd net op die negatiewe te fokus. Die man se feite en uitkyk is teen-kultuur. En ek besef ek moet in myself seker maak dat ek nie vasval in die oordrewe negatiewe spiraal van denke oor ons land en die wêreld-ekonomie nie. Ons doen dit maklik. Ons hoor tien positiewe dinge en een negatiewe ding. Waaroor dink ons die hele nag? Die een negatiewe ding.

In die Bybel het gelowiges nog altyd fees gevier ten spyte van hul omstandighede. Daar is water uitgegooi in die strate van Jerusalem om iets oor God se seën te vier terwyl hulle onder Romeinse onderdrukking was. Daar is brood gebreek en gedans in die nag om vure al was die volk in Ballingskap. Die elemente soos vuur, water, graan, brood, 'n geofferde lam en lig was alles tekens en simbole wat na God gewys het. Dit was 'n viering van identiteit, ten spyte van. Dit was 'n dankbaarheid vir wat ons steeds en reeds het.

As jy 'n Christen is moet jy kan feesvier ten spyte van jou omstandighede of bekommernisse, want ons vier die lewe wat God elke dag gee. Ons vier wat ons in Hom het. Ons vier wie ons is.
Ons harte loop oor van Sy vreugde en daarom kan ons fees vier!

Ons hou nie maar net basaar nie. Ons noem dit ook nie meer 'n basaar nie. Ons het twee nuwe en eeue-oue elemente gekies: Lig en Ritme.

Ons hou nie net fees vir onsself nie. Ons wil die wêreld vertel dat daar lig is in Hom. Deur ons skyn sy Lig. En deur Hom is daar ritme, beweging, lewe en hoop. Ons kan dans en drom slaan! Ons kan sing en spring.

Daar is altyd Iemand om oor fees te vier.
Jy moet net in die regte rigting kyk.